Die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming wil ’n plaas in Amersfoort, Mpumalanga, vir bykans R13 500/ha teen amper R17,5 miljoen vir die staat se program vir herverdeling van landbougrond (LRAD) koop.
Goeie landbougrond in die omgewing behaal gemiddeld R6 000/ha. Landbouweekblad het vasgestel die plaas behoort aan mnr. Motsepe Matlala, voormalige voorsitter van die National African Farmers’ Union (Nafu).
Hy het die plaas van 1 303 ha in 2005 teen R2,8 miljoen gekoop. Werkers wat op die plaas bly, is in Februarie na ’n vergadering met Matlala en ’n amptenaar van die departement genooi. Elkeen het ’n vorm op die vergadering vir ’n LRAD-aansoek gekry om in te vul.
Op die vorm is aangedui dat Matlala se plaas, Goedehoop, vir die bedrag van R17 413 800 gekoop word vir herverdeling. Hulle kan aansoek doen om die grond vir boerdery te kry.
Sowat agt families woon op die plaas. Die plaas is geskik vir gewasverbouing en weiding, maar na bewering word dit tans nie ten volle benut nie. Matlala het aan Landbouweekblad gesê hy is “nie in ’n posisie om oor die saak te praat nie”.
22 Maart 2011