Die staat is nie ’n gewillige koper van grond nie, maar ’n verpligte koper, het mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, gesê.
Nkwinti het op ’n mediakonferensie van die ministeriële ekonomiese groep verduidelik waarom die staat so ’n groot probleem met die beginsel van ’n gewillige koper en ’n gewillige verkoper het om sy grondhervormingsdoelwitte te behaal.
Hy het gesê die staat het ’n historiese en politieke mandaat om grond volgens die voorskrifte van die Vryheidsmanifes te herverdeel. “Grond behoort aan almal, swart of wit, wat daarop bly.”
Hy het gesê omdat die staat ’n verpligte koper is, bring dit mee dat grondpryse opgestoot word. Die instelling van ’n waardeerder-generaal sal help om grondpryse gematig te hou. ’n Beleidsvoorstel oor hierdie instelling sal teen einde Maart gereed wees.
Drie instellings
Hierdie instelling is een van drie wat in die groenskrif oor grondhervorming voorgestel word om gestalte te gee aan die manier hoe grond in die land bestuur gaan word.
Die ander twee instellings is die kommissie op die bestuur van grond (LMC) en ’n raad wat grondregte bestuur. Nkwinti het gesê hierdie instellings sal aan nuwe wetgewing gestalte gee. “Ons meen dat jy nie ’n samelewing kan omvorm sonder nuwe instellings wat die transformasieproses ondersteun nie.
“Dit was tot dusver ons swakheid, die afwesigheid van instellings wat die pogings ondersteun om die grondverhoudinge in die land te hervorm.”
Hy het gesê dat elk van die ses afdelings van die groenskrif waarvoor werkgroepe aangestel is, met sy eie beleidsperspektief sal kom. Daar sal dus ses nuwe stukke wetgewing kom pleks van slegs een witskrif.
1 Maart 2012