Die staat se inkomste uit aksyns en BTW was die afgelope jaar sowat R3,9 miljard, terwyl wynboere sowat R3,6 miljard verdien het, aldus mnr. Rico Basson, uitvoerende direkteur van Vinpro, in sy kommentaar oor die Begroting.
Hy sê Suid-Afrika se wyn- en brandewynprodusente sal nóg verder op hul knieë gedwing word deur die nuutste verhogings in aksynsbelasting wat deur die Minister van Finansies aangekondig is – veral die buitensporige verhoging op brandewyn.
Die gekombineerde uitwerking van die verhogings sal vir talle ? finale nekslag wees, en ongetwyfeld met arbeidsverliese gepaard gaan, sê Basson.
Aksyns op brandewyn ‘onaanvaarbaar’
“Produsente moes reeds in die jongste jare strawwe aksynsverhogings absorbeer te midde van erge finansiële druk, en die nuutste verhogings van 7,8% op natuurlike wyn en 20% op spiritualieë. Laasgenoemde, wat die belangrike brandewynkomponent insluit, is onaanvaarbaar. Gefortifiseerde wyn verhoog met 6% en vonkelwyn 8%.”
VinPro het met teleurstelling en kommer kennis geneem dat daar – ondanks deurlopende gesprek met die Regering – nie genoegsaam ag geslaan is op wynprodusente se benarde posisie en pleidooie nie. Die verhoging op brandewyn beloop meer as drie keer die inflasiekoers, terwyl verwagte produsente-inkomste vanjaar sywaarts sal beweeg.
In der waarheid sou behoorlike beheer oor onwettige drankverspreiding in die vorm van sogenaamde “ales” – wat wesenlik bydra tot sowat R500 miljoen in aksynsverlies, heelwat laer verhogings in die hand kon werk. Dít terwyl die staat reeds geruime tyd meer inkomste deur aksyns en BTW uit wynprodukte verdien as die totale wyndruifprodusente-inkomste – sekerlik ? nie-volhoubare situasie vir die Regering én die bedryf.
Basson het die volgende kernfeite uitgelig:
* Aksyns op wyn het sedert 2003 van R0,89 per liter tot R2,50 per liter gestyg.
* Wyndruifprodusente se uitbetaling word hierdeur met meer as R1 100 per ton geraak.
* Die primêre produsent verdien tans slegs R2,55 uit 'n bottel wyn wat teen R27 in die kleinhandel verkoop – dus minder as 10%.
* Ná produksiekoste laat dit slegs 38 sent vir die boer oor om sy lewensuitgawes te dek en sy rente op plaaskapitaal te delg.
* Die Regering het reeds R5 uit dieselfde bottel wyn verdien deur aksyns en BTW. Die staat se inkomste daaruit was sowat R3,9 miljard, terwyl die wynboere sowat R3,6 miljard verdien het.
* Die wynbedryf is die naasgrootste uitvoerder van landbouprodukte en die bydrae tot die bruto binnelandse produk is meer as R26 miljard. Meer as 279 000 mense werk in die bedryf.
23 Februarie 2012