Skade van miljarde is aangerig toe meer grootskaalse gewelddadige onluste en plundering in Julie in KwaZulu-Natal en Gauteng vir sowat ’n week lank plaasgevind het.
Baie winkels in Durban, Pietermaritzburg en kleiner dorpies in die KwaZulu-Natalse platteland is totaal verwoes en gestroop. Daar is dus nie infrastruktuur om kos te voorsien aan die plekke waar mense gewoonlik gaan kos koop nie. Die staat het reeds ’n ekonomiese hulppakket van bykans R39 miljard beskikbaar gemaak wat ook hulp aan besighede in die onlusgebiede bied.
Mnr. Tito Mboweni, minister van finansies, het uitgewys dat die skade nét in die eThekwini-gebied na raming R15 miljard is. Die totale skade weens die onluste word op R50 miljard geskat. Die KwaZulu-Natalse Landbou-unie Kwanalu het aangedui dat die voorlopige skadebepaling wat aan die landbou-ekonomie aangerig is meer as R2 miljard kan wees.