
Suid-Afrika se regerende party moet Cosatu se naelstring afsny, het dr. Roelof Botha, ekonoom, op die Avi Africa-byeenkoms gesê.
“Cosatu verhinder werkskepping. Vakbonde het ’n belangrike rol in ’n ekonomie, maar die geweld wat deesdae met stakings gepaardgaan, verstom my,” het Botha, ’n ekonomiese raadgewer by die ouditeursfirma PricewaterhouseCoopers, gesê.
“Suid-Afrika se bankstelsel word as die naasbeste ter wêreld geag, maar ons arbeidsmark is in die 146ste plek ten opsigte van internasionale mededinging.” Botha het gesê dit gaan goed met Suid-Afrika se ekonomie en dienslewering ten spyte van dit wat ’n mens dikwels in koerante lees.
“Die Regering het die afgelope paar jaar 2,9 miljoen huise gebou, 1 000 klinieke gevestig en duisende huise van skoon drinkwater voorsien. Dit beteken dat talle mense se lewensgehalte verbeter het. Korrupsie moet ’n nekslag toegedien word, maar ons moet ook ’n bietjie erkenning aan die Regering gee vir wat wel gedoen is.”
Volgens Botha is alle sektore uit die resessie en dui alles daarop dat die ekonomie begin herstel. “Verbruikers is immers besig om te koop.” Botha het die gehoor aangemoedig om nou in aandele te belê.
Hy meen dat ’n blink toekoms op Suider-Afrika wag. “ ’n Duisend miljoen rand is die afgelope agt jaar in Suid-Afrika belê. Dít is beleggingsgeld wat fondsbestuurders aan ander (ontwikkelde) lande onttrek het omdat hulle besef het dat hulle hul opbrengste kon verdriedubbel deur eerder in Suid- Afrika te belê.”