
Onduidelikheid heers oor hoeveel boorgate werklik in die provinsies gesink is as deel van die Regering se noodmaatreëls om kritiese watertekorte in die droogte aan te vul nie.
Verskeie pogings van me. Annette Steyn, die DA se skaduminister vir landbou, om presies uit te vind waar boorgate as deel van droogtehulp gesink is, hoeveel dit gekos het en of daar wel water gevind is, kon steeds nie duidelik deur die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye geantwoord word toe hy verslag aan die Parlement se portefeuljekomitee gedoen het nie.
Vanaf 2008 is 1276 boorgate gesink
Mnr. Mike Mlengana, direkteur-generaal van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, het aangedui dat die departement vanaf 2008 reeds 1 276 boorgate gesink het en nog 65 in Noordwes voor die einde van 2017 sal sink.
Mlengana kon self nie ’n duidelik prentjie rakende die boorgate van sy provinsiale departemente kry nie. KwaZulu-Natal, Limpopo, die Wes-Kaap, Gauteng en Mpumalanga het geen inligting deurgegee oor hoeveel bestaande boorgate in hulle provinsies is nie.
Die Noordwes het aangedui dat hy 135 bestaande boorgate het wat die departement gesink het, die Noord-Kaap 261, Aliwal-Noord in die Oos-Kaap agt, en die Vrystaat 380.
Boorgate gesink
Die departement het by ’n vorige sitting van die Parlement se portefeuljekomitee vir landbou, bosbou en visserye aangedui dat sewe boorgate in KwaZulu-Natal geboor en toegerus is teen gemiddeld R342 000 stuk, 48 boorgate in die Vrystaat het elk R250 000 gekos en so ook die 65 in Limpopo en die 48 in Noordwes.
Steyn het einde verlede jaar begin ondersoek instel na die ligging van die boorgate wat as droogtehulp gesink is, nadat sy hulle nie kon opspoor nie. “Na byna ’n jaar kry ek steeds nie ’n lys van GPS-koördinate waar die boorgate gesink is, wat die koste van die boorgate is, of water gevind is en watter maatskappye die tender daarvoor gekry het nie."
Boere weet nie van boorgate nie
“Ek weet van net drie wat in Kwazulu-Natal gesink is. Reg oor die land, van klein- tot grootboere weet dan nie van die sogenaamde boorgate wat gesink is nie.”
Sy het gesê sy het die GPS-koördinate nodig sodat sy self op ’n “drinktoer” van die boorgatwater kan gaan en hulle bestaan self bevestig.