
Agri Oos-Kaap het ’n dringende versoek tot die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling gerig om aandag te gee aan ’n aansoek vir die registrasie van ’n alternatiewe plaagdoder vir sprinkane wat al sewe maande by die registrateur lê. Met Deltanex UL kan sprinkane uit die lug bekamp word.
Volgens Agri Oos-Kaap is die voorraad van die Sumi-Alpha-plaagdoder, tans die enigste plaagdoder waarmee sprinkane vanuit die lug bekamp kan word, uitgeput.
Die vliegtuie wat vir die bespuiting gebruik is, staan nou in onbruik. Die situasie bedreig die goeie werk wat tot dusver gedoen is.
Volgens Agri Oos-Kaap sou van die gif gister opgedaag het, maar dit sou genoeg wees vir slegs een dag. Die volgende besending sou volgens die departement van landbou eers teen 15 April gereed wees. Dit is te laat om die huidige golf van sprinkane te beheer.
Agri Oos-Kaap sê hulle het vasgestel dat die aansoek vir Deltanex UL, insluitend die volle registrasie-inligting, reeds in Julie 2021 by die registrateur ingedien is. Die middel is reeds registreer en suksesvol in Namibië aangewend.
Agri Oos-Kaap sê die vervaardiger sal, indien die registrasie toegeken word, binne drie dae voldoende hoeveelhede kan produseer. Die middel sal ook weens die lae toedieningstempo finansieel haalbaar wees.
“Dit is natuurlik die vinnigste oplossing en ons het dit reeds verlede Vrydag (25 Maart) onder die aandag van die registrateur en die direkteur-generaal van landbou gebring.”
Erns van situasie nie begryp
Volgens Agri Oos-Kaap bring dit groot frustrasie mee aangesien hulpbronne wat privaat aangebied word, nie gebruik kan word weens die tekort aan plaagdoders nie.
“Dit is noodsaaklik dat die regte hoeveelhede van die goedgekeurde plaagdoder te alle tye beskikbaar is vir die departement en die bedryf, andersins sal die geld wat reeds spandeer is werklikheid verlore wees.”
Hulle sê die sloering dui op ’n onbegrip vir die erns van die huidige situasie.
“Voorheen, soos in die geval van noodregistrasie van plaagdoders wat gebruik is om die herfskommandowurm te bekamp, is registrasie voorlopig goedgekeur in afwagting op volle wetgewende voldoening.
“Die mislukking en ondoeltreffendheid van die regering sal weer eens voedselpryse raak, en sal ernstig gevoel word deur die kwesbaarste in die samelewing. Dit wil voorkom asof die moontlike verlies van miljarde rande weens die verlies aan inkomste van uitvoer en tienduisende seisoenale werkers wat nie werk het nie, nie die amptenare wat hul maandelikse salaris danksy die belastingbetaler ontvang, bekommer nie.”