
Om te verseker dat die landbousektor sy momentum behou sal pres. Cyril Ramaphosa in sy staatsrede besliste aandag moet gee aan landelike veiligheid, toegang tot grond, toegang tot werkskapitaal en belegging in infrastruktuur en tegnologie, meen mnr. Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA.
Ramaphosa lewer vanaand sy sesde staatsrede in ’n tyd waar die ekonomie sukkel om kop op te tel, die covid-19-pandemie steeds woed, korrupsie steeds hooggety vier en grootskaalse werkloosheid voorkom. Veral die werkloosheidskoers laat kommer ontstaan dat gewelddadige onluste en plundery, soos in Julie verlede jaar in KwaZulu-Natal en Gauteng, weer kan uitbreek.
Nadata ’n brand ’n maand gelede die parlementêre geboue beskadig het, sal Ramaphoa sy staatsrede in die Kaapstadse stadsaal lewer.
Die landbousektor het in die covid-19-pandemie sterk gestaan, in 2020 meer as R119 miljard tot Suid-Afrika se bruto binnelandse produk bygedra en in 2021 aan meer as 800 000 mense werk verskaf. Van der Rheede sê die sektor se prestasie het die belangrikheid van suksesvolle van boere en boerderygemeenskappe in die Suid-Afrikaanse ekonomie onderstreep.
Aandag
Landelike veiligheid is van groot belang om voedselsekerheid te verseker. As boerderygemeenskappe nie veilig gehou word nie, sal die aantal boere in Suid-Afrika afneem en die sektor sal nie nuwes kan lok nie. “Landelike veiligheid gaan nie net oor boere nie, dit gaan oor die werkers en die gemeenskappe wat voedselproduksie ondersteun.”
Ramaphosa moet inisiatiewe wat toepasbaar is, aankondig om met landelike gemeenskappe saam te staan om landelike veiligheid ’n nasionale prioritiet te maak en voedselsekerheid vir Suid-Afrika te verseker.
Rakende toegang tot grond en verblyfsekerheid moet die staat afstand doen van onteiening sonder vergoeding en twee ingrypings vir betekenisvolle grondhervorming toepas: Maak staatsgrond beskikbaar vir swart, vrouelike en jeugdige toetreders tot die landbousektor en verskaf verblyfsekerheid aan swart en vroulike toetreders op die grond waarop hulle boer sodat hulle dit kan gebruik om toegang tot kapitaal te kry.
Bates soos grond en oordragbare waterregte is belangrik vir boere om toegang tot kapitaal te kry. Benewens onteiening sonder vergoeding het die staat boonop ’n aanval gedoen op oordragbare waterregte.
Rampahosa moet ook daadwerklike stappe aankondig om Suid-Afrika se haglike pad- en spoornetwerk te verbeter.
Infrastruktuur knelpunt
TLU SA sê dis belangrik dat energievoorsiening en infrastruktuur onmiddellik aandag moet kry.
Mnr. Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, sê paaie is so sleg dat boere nie hul produkte van die plaas af kan kry nie. Vervoerkontrakteurs is nie meer bereid om na plase te ry nie weens die swak toestand van paaie. Daar moet iets daadwerklik gedoen word om die situasie om te keer. ’n Moontlikheid is dat boere self die paaie laat herstel en die munisipaliteit skryf die koste teen belasting af.
Hy sê die regulasies van die covid-19-inperking maak nie altyd sin nie en dis tyd dat die ekonomie oopgestel word.
Die regering se hantering van rampe is ’n belangrike kwessie. “Die staat het die verantwoordelikheid om ná rampe hulp te bied om sake te help stabiliseer, maar hy doen niks nie. As die staat nie hierdie verantwoordelikheid aanvaar nie, gaan dit voedselsekerheid knou en dis die laaste ding wat Suid-Afrika nodig het.”
Hy benadruk dat voedselsekerheid van deurslaggewende belang is en waarsku dat “nie een ander rat gaan werk as daar nie kos op die tafel is nie”.
Die staat sal dus moet kyk hoe hy kan help ten opsigte van rampe. “Hy moet dit onmiddellik kan doen. Hy sleep voete, want dit duur twee tot drie jaar om ’n powere poging van stapel te stuur, indien enige.”
Maar die groot vraag is of die staat die wil en vermoë om dit te doen. Dit blyk hy is meer behep met sy eie ideologie en eie voortbestaan as om Suid-Afrika te red en die platteland betaal ’n prys daarvoor, sê Van Zyl.