
Mnr. Francois Strydom, Agbiz-voorsitter, sê Ramaphosa het die meeste van die belangrike struikelblokke genoem wat landboubesighede daagliks moet oorkom – kragsekerheid, logistiek, watersekerheid en infrastruktuur. Hy sê hulle hoop dat die stig van ’n departement van elektrisiteit die nodige dryfkrag sal voorsien sodat oplossings gevind kan word.
Mnr. Theo Boshoff, uitvoerende hoof van Agbiz, sê die president het nou ’n verwagting geskep waaraan hy sal moet voldoen. “Agbiz, navorsingsinstellings, die regering en vennote in die landbouwaardeketting het al as deel van me. Thoko Didiza se taakspan vir energiesekerheid hard gewerk om praktiese oplossings te bewerkstellig wat voedselsekerheid sal verseker.
“Soos die president genoem het, is dit ’n komplekse probleem aangesien oplossings beperk word deur tegniese beperkings op die netwerk en ’n gebrek aan duidelike leiding oor die vereistes vir alternatiewe beurtkragskedules wat beter volgens die onderskeie bedrywe belyn kan word.”
Volgens hom sal gesentraliseerde besluitneming in die presidensie hopelik broodnodige dringendheid voorsien en reaksie op die voorstelle van die taakspan tot gevolg hê.
Landboubesighede dra die koste
Die verklaring van ’n ramptoestand weens die kragkrisis is volgens Boshoff ’n duidelik aanduiding dat vinniger vordering gemaak moet word om dié krisis op te los sonder om verdere onnodige ontwrigting te veroorsaak.
“Landboubesighede is die lewensbloed van landelike dorpe en dra die koste van swak dienslewering. Hierdie ondernemings belê aansienlike bronne in die onderhoud van infrastruktuur en die lewering van dienste aan besighede en gemeenskappe.”
Strydom sê Agbiz steun die oorhandiging van meer as miljoen titelaktes aan arm huishoudings en versoek dat dié inisiatief ook moet geld vir landelike gebiede waar die begunstigdes van landelike hervorming steeds gebuk gaan onder onsekere eiendomsregte.
Plaaslike regering en vennootskappe
Boshoff sê Agbiz verwelkom die president se beklemtoning van verbeterde finansiële en administratiewe bestuur in plaaslike regerings en doen ’n beroep op ingryping op nasionale en provinsiale vlak waar plaaslike regerings nie aan die nodige standaarde voldoen nie.
Dit is vir hom opmerklik dat openbare-private vennootskappe herhaaldelik gedurende die staatsrede genoem is.
* Intussen het Eskom Vrydagmiddag bekend gemaak dat vlakke 2, 3 en 4 van beurtkrag vir die naweek sal voortduur. Vlak 3 beurtkrag sal geld tot 16h00 Vrydagmiddag, waarna vlak 4 van 16h00 tot 05h00 Saterdagoggend ingestel sal word. Vanaf 05h00 Saterdagoggend tot 05h00 Sondagoggend sal vlak 3 beurtkag ingestel word. Tussen 05h00 en 16h00 Sondag sal vlak 2 beurtkrag geld, waarna die beurtkragvlak van 16h00 Sondag tot Maandag 16h00 op vlak 3 sal wees. Vlak 4 sal weer van 16h00 tot middernag Maandagaand ingestel word.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.