
Twee vakbonde het die Nasionale Ekonomiese, Ontwikkelings- en Arbeidsraad (Nedlac) in kennis gestel dat ‘n staking sal plaasvind as die Regering nie spoedig reageer rondom probleme met suur mynwater.
Luidens ‘n verklaring het die federasie van vakbonde (Fedusa) en die vakbond UASA Dinsdag (28 September) tydens ‘n vergadering ‘n afdeling 77 aansoek aan Nedlac oorhandig.
Die aansoek is saamgestel uit navorsing deur die vakbonde oor die gevolge van die watersituasie in Suid-Afrika en van die sloerdery deur die owerhede, asook die bevolking, om dit aan te spreek.
Gesamentlike komitee
Die verteenwoordigers van al die partye het ooreengekom dat ‘n stuurkomitee saamgestel word deur Fedusa en die Regering waaronder Nedlac die vakbonde se vereistes kan ondersoek. Die Regering het gevra vir ‘n tydperk van 30 dae om die aansoek intern na te gaan, waarna Nedlac die eerste vergadering van die komitee sal behartig.
Die vakbonde is spesifiek bekommerd oor die feit dat dit blyk of die Regering sy “voete sleep om ‘n krisis op te los” wat die gesondheid en veiligheid van mense, diere en die landbousektor beïnvloed.
Verskil tussen fondse vir MIV en water?
Die vakbonde sê daar heers kommer daaroor dat die Regering miljoene bestee om die samelewing oor MIV/Vigs in te lig en op te lei, terwyl dieselfde nie gesê kan word rakende die waterprobleme op hande nie.
Die Wêreld Gesondheidsorganisasie (WHO) se 2002 statistiek voorspel dat 2,9 miljoen mense per jaar aan MIV/Vigs gaan sterf, terwyl 3,4 miljoen mense weens onveilige water en sanitasie sal doodgaan.
“Moenie skuil nie”
Intussen het mnr. Mike Muller, lid van die Nasionale Beplanningskommissie, die samelewing en ook boere aangemoedig om nie vir die Regering te wag om alleen die probleem op te los nie. Hy was ‘n spreker by die Suid-Afrikaanse Instituut vir Landbou-ingenieurs se jaarlikse konferensie in Pretoria.
“Moenie agter die plaasheining wegkruip nie. Raak deel van die stryd buite jou plaasgrense,” het hy gesê. Volgens Muller sal die land ‘n waterkrisis ondervind as sake nie drasties verander en die land se waterstelsels nie behoorlik bestuur word nie. Hy meen die land het genoeg water tot 2025.
30 September 2010