
Graan SA, Agbiz en Agri SA het Woensdag weer met Sapia oor die kwessie vergader. “Die terugvoer wat ons kry, is dat dieselvoorsiening nog erg onder druk is,” sê mnr. Corné Louw, senior ekonoom by Graan SA. “Die grootste probleem op die oomblik is opeenhoping en logistiek. Volgens Sapia is daar genoeg voorraad in die land.”
Hy sê daar is met Sapia ooreengekom dat voorkeur gegee word aan groothandelaars wat diesel aan produsente verskaf. ’n Lys van groothandelaars wat deur lede van Graan SA verskaf is, is aan Sapia deurgegee vir prioritisering.
Dr. Requier Wait, hoof van ekonomie en handel by Agri SA, sê dit is moeilik om te bepaal waar presies die tekorte oral ondervind word.
“Ons het vroeër al gehoor van probleme in die Vrystaat, Noordwes en Noord-Kaap, maar probeer nou ’n opname maak om ’n beter prentjie van die situasie te kry. Ons is nou weekliks in kontak met Sapia om die jongste inligting te kry en ons bring hulle in kontak met die kernverskaffers binne landbou sodat hulle bewus kan wees van bottelnekke wat ontstaan.”
Volgens Sapia ontvang al die depots wat met diesel deur die Transnet-pyplyn voorsien word, tans hul voorraad, met die uitsondering van Waltloo buite Pretoria en by Witbank waar die pyplyn ’n week gelede deur brandstofdiewe beskadig is.
Die vereniging het in sy jongste verklaring op 12 Junie bevestig dat die voorraadvlakke vir petrol en diesel verbeter sedert die Covid-19-inperkingmaatreëls verslap is. Daar het ook ingevoerde brandstofprodukte in Durban se hawe aangekom wat binne 14 dae met die pyplyn na die binneland versprei sou word.
Sapia sê hy monitor die situasie voortdurend, maar hy glo dat voorraadvlakke reg oor die land binnekort sal stabiliseer omdat meer raffinaderye nou op dreef is en brandstof produseer.
Mnr. Lourens van der Linde, ’n boer van Wesselsbron, wat Landbouweekblad twee weke gelede uit desperaatheid oor die situasie gekontak het, sê die situasie is nog ver van normaal af. Hy het verlede week begin om 3 000 ha witmielies te stroop en het ook ’n meule wat meel aan die Pick n Pay-winkelgroep verskaf.
Hy sê hy kon verlede week 4 000 liter diesel kry nadat hy voorheen weens die rantsoenering tot 1 000 liter op ’n slag beperk was. Vir die stropery en die vervoer van meel het hy nou sowat 23 000 liter per week nodig. “Die onverwagse reën verlede week het die stropery bietjie vertraag, maar nou wil ons volstoom voortgaan en ons het meer diesel nodig.”
Hy sê daar is ook ’n tekort aan huishoudelike paraffien. Swart handelaars met bakkies en inwoners staan tou by die koöperasie op Wesselsbron om paraffien te probeer koop.
Mnr. Kevin Mileham, die DA se skaduminister vir minerale hulpbronne en energie, sê hy is ernstig bekommerd oor die swye van minister Gwede Mantashe, sy departement en die parlement oor die voortslepende dieseltekort. Volgens hom word Gauteng nou die kwaaiste getref met talle groot- en kleinhandelaars wat geen voorraad het nie en ook sukkel om te kry.
Hy sê sy party het vir ’n dringende vergadering gevra sodat die regering kan verduidelik wat gedoen word om die krisis op te los, maar daar is geen reaksie op die versoek nie.
“Ondanks die versekering dat die beskikbaarheid van diesel teen einde Mei normaal sou wees, lyk dit of die situasie vererger ten koste van die landbou- en mynboubedryf. Mantashe en die hoofde van raffinaderye is die land ’n verduideliking skuldig oor die werklike stand van sake en wanneer voorraadvlakke werklik weer normaal sal wees.”