
Debatte moet eerder konsentreer op hoe die beste in die land se kragvereistes voorsien kan word om die ekonomie te laat groei deur die voorsiening van energie te balanseer met die land se verpligting om klimaatsverandering aan te pak.
Só het mnr. Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energie, tydens die debat oor die staatsrede in die parlement gesê. Hiermee het hy dit duidelik gemaak dat steenkool deel van die land se toekomstige energiemengsel sal bly.
Hy het gesê die geïntegreerde plan vir hulpbronne sal die land se primêre energievereistes aandui met betrekking tot steenkool, kernkrag, gas, sonkrag, wind, hidrokrag en biomassa. Daar word reeds geruime tyd gewag dat die plan bekend gestel word.
“Om belegging te verseker vir die verlangde energie-infrastruktuur, insluitende kragsentrales, raffinaderye, pyplyne, transmissie- en verspreidingskabels, asook die opbergingsgeriewe vir olie en gas, sal ons moet verseker dat alles gereed is vir hierdie infrastruktuur, veral wat betref wetgewing en institusionele ordening.”
Hy het benadruk dat die regering die energie- en mynbousektor sien as sleutelsektore vir die toekomstige groei en ontwikkeling van die land se ekonomie, met groot potensiaal vir onder meer eksplorasie en produksie. Om hierdie rede is besluit dat die beleids- en regulatoriese omgewing hiervoor herstel moet word na een wat stabiel en voorspelbaar is.
Heelwat werk is reeds gedoen om die onsekerheid uit die weg te ruim wat ontwikkeling in veral die mynboubedryf gestrem het, deurdat die Handves vir Mynbou gefinaliseer is. Olie en gas word nou nie meer binne die regulatoriese raamwerk onder tradisionele minerale aangedui nie.
Mantashe het gesê dat die departement ’n wetsontwerp vir die ontwikkeling van petroleumhulpbronne begin saamstel het. Die wetsontwerp sal vir openbare kommentaar gepubliseer word wanneer dit voltooi is, waarna die parlementêre prosesse sal volg.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.