Die verslag oor die situasie rondom suur mynwater aan die Witwatersrand en die oplossings daarvoor moet dringend vrygestel word, aldus die Demokratiese Alliansie (DA).
Luidens ‘n verklaring sê mnr. Gareth Morgan, omgewingswoordvoerder vir die party, dié verslag het glo op me. Susan Shabangu, Minister van Mynwese, se lessenaar vasgehaak.
Dít terwyl dit kort- en langtermyn-oplossings vir die oorspoel van suur mynwater aan die Wes- en Oos-Rand bevat.
Miljoene liter per dag
Morgan sê sowat 40 miljoen liter onbehandelde suur mynwater loop daagliks in die Tweelopiespruit in die Krugersdorp-wildtuin aan die Wes-Rand in. Dié meting is wel nie akkuraat nie, aangesien die metingstasie onlangs oorstroom is.
Intussen loop 50 miljoen liter onbehandelde suur mynwater tans by die Grootvleimyn aan die Oos-Rand daagliks in die Blesbokspruit in, en die pompstasie by dié myn is afgeskakel, wat beteken dat dit binnekort kan begin oorstroom.
Morgan sê die verslag moet as ‘n saak van dringendheid ter tafel gelê word. Hy sê hoe langer die Regering sloer, hoe meer angstig gaan inwoners van Gauteng asook dié wat deur die riviere beïnvloed word, raak.
Dit sal later blyk of die Regering iets het om weg te steek, terwyl die armstes van die armes – wat die Regering as ‘n prioriteit bestempel - die ergste geraak word.
8 Februarie 2011