
Die stewige produsenteprys is ’n kombinasie van ’n goeie binnelandse vraag en die herstel in uitvoer – ondanks die bek-en-klouseeruitbrekings – na 23 lande, waaronder China, Koeweit, die Verenigde Arabiese Emirate en Jordanië.
Hy het gesê die produsenteprys van lamsvleis is tans 15% hoër as verlede jaar, en die prys van skaapvleis 23% hoër. Dit is deels omdat slagsyfers op ’n jaargrondslag bykans 13% laer is. Die laer slagsyfers is weens kuddebou, maar die impak van veediefstal en roofdiere moet nie onderskat word nie.
Uitvoer van lewende hawe
Wessels het gesê die drastiese styging in skaapvleispryse is tot ’n mate weens die uitvoer van lewende slagvee. Die RPO is opgewonde daaroor. Hy sal moet seker maak dat dit volgehou word volgens ’n internasionaal aanvaarbare protokol ten opsigte van dieresorg. Tot 6% van die plaaslike produksie kan só uitgevoer word, wat baie vir die bedryf kan beteken.
Hy het gesê die stewige skaap- en lamsvleispryse is ’n aanduiding dat die vraag na vleis op die plaaslike mark steeds goed is. Die verbruikersopvoedingsprogram dra by daartoe. Die prys van velle is op ’n jaargrondslag 16% hoër, wat die bedryf ’n hupstoot gee.
Hy meen Suid-Afrika, veral aan die beesvleiskant, is ’n sterk mededinger en pryse is 30% onder die wêreldnorm. Uitvoer is tans 4% van die beesvleisproduksie en 1% van plaaslik skaap-en lamsvleisproduksie.
Beesvleisuitvoer kan groei tot 20% van die plaaslike produksie, en die lewende skaapuitvoermark tot 6% daarvan. Suid-Afrikaanse beesvleis is uiters gesog omdat dit volgens ’n unieke klassifikasiestelsel bemark en hoofsaaklik uit voerkrale geproduseer word.
Wessels meen dit sal minstens vyf jaar duur voordat Suid-Afrika sy bek-en-klouseervrye status sal herwin.
• Mnr. Nico Uys volg Wessels, wat hom nie herkiesbaar gestel het nie, op as voorsitter van die Wes-Kaapse RPO. Uys is ’n boer van Heidelberg-omgewing.