
Elke keer as ‘n boer vermoor word, gaan ‘n stukkie van die geskiedenis verlore en gaan daar iets binne elke Suid-Afrikaner dood, sê Steve Hofmeyr.
In sy vertoning Haloda op die Klein-Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) kyk Steve terug na hoogtepunte in sy loopbaan. Hy sing treffers uit die televisiereeks Agter elke man en uittreksels van Niel Diamond-liedjies. Gewilde nommers soos Pampoen en Die Blou Bul kry ook ‘n beurt.
Net voor hy die liedjie Ons sal dit oorleef sing, waarin die stem van die ontslape AWB-leier Eugene Terreblanche ook gehoor word, vaar Steve uit teen plaasmoorde.
“Elke keer as hulle ‘n boer vermoor, en daar sal voor volgende Woensdag nog een vermoor word, sal daar iets in jou doodgaan...verloor jy ‘n klein stukkie taal, ‘n klein stukkie kultuur, ‘n klein stukkie godsdiens, ‘n klein stukkie van jou identiteit,” sê die sanger.
Bestekopname
Volgens hom woon hy jaarliks die KKNK by om bestekopname van die Afrikaanse kultuurkapitaal te neem. Dié besoeke het aan hom bevestig sy stryd teen die verandering van plekname, plaasmoorde en Afrikaans is die moeite werd.
“Elke keer wat ‘n boer vermoor word verloor jy die voorreg van ‘n Van der Merwe-grappie, verloor jy die voorreg van nagereg, sê jy koebaai vir ‘n Hertzog-koekie, sê jy koebaai vir die FAK, sê jy koebaai vir die mooiste liedjies, sê jy koebaai vir die antwoord op die vraag: Hasie, hoekom is jou stert so kort? Elke keer as daar ‘n boer vermoor word, verloor jy ‘n klein stukkie van die geskiedenis,” sê Hofmeyr.
Steve het die gehoor kans gegee om aan hom vrae te stel. Een konsertganger het gevra of Steve al saam met Julius Malema gebraai het.
“Nee, ek het nooit by hom uitgekom nie. Ons het nie die grootste liefdesverhouding in die wêreld nie. Ons hoef nie veel te doen nie, ons kan nou net terugstaan en kyk hoe verdwyn hy.”
Al drie vertonings van Haloda, waarin Steve saam met sy seun Armand Hofmeyr en Willem Botha optree, was uitverkoop.
5 April 2012