
Tim Thabethe, ‘n omroeper van OFM en Steve Hofmeyr, gaan vandag (18 Februarie) ryloop na Kaapstad en die U2-vertoning om geld in te samel teen plaasmoorde. Luidens ‘n verklaring volg dít nadat ‘n boer Thabethe Donderdagoggend (17 Februarie) tydens sy ontbytprogram hiermee uitgedaag het.
Die boer is bereid om R10 te skenk vir elke kilometer wat afgelê word. Die uitdaging het gevolg na die 08h00 nuusbulletin waartydens daar gefokus was op die herrie rondom die “skiet die boer”-lied en Bono van U2. Bono het vroeër verduidelik dat hy oor die naweek verkeerd aangehaal is oor die lied, en daar is ook gefokus op die feit dat Hofmeyr, na die vroeëre mediaberigte, Sondagaand se U2-vertoning misgeloop het omdat hy uit protes sy kaartjies in die Jukskeirivier gegooi het.
Reeds fondse
Me. Hannika Struwig, kommunikasie beampte vir OFM, sê die inisiatief het reeds baie ondersteuning gekry. Verskeie luisteraars het reeds ingebel en ‘n bedrag van R50 000 is reeds ingesamel sóú Tabethe en Hofmeyr betyds wees vir die vertoning. Mnr. John Langford, woordvoerder vir Big Concerts, het ook aan Thabethe toegang tot die vertoning belowe – mits hy boerewors-rolletjies daar verkoop.
Alle fondse wat ingesamel word, sal gaan aan die Agri Securitas Trustfonds.
Hofmeyr het reeds al sy afsprake vir die dag gekanselleer en die twee vertrek vanoggend om betyds te wees vir die vertoning.
Plaasgeweld?
Intussen sê mnr. Andre Botha, voorsitter van Agri SA se veiligheidskomitee, die situasie rakende plaasaanvalle en –moorde lyk meer stabiel tot dusver vanjaar as wat die geval was tydens die ooreenstemmende tyd verlede jaar.
“Ons het ‘n slegte Desember en Januarie gehad, maar dinge lyk nou meer stabiel,” verduidelik Botha. Hy het spesifiek na vier voorvalle wat verlede maand plaasgevind het asook die moord van die Lindley-gesin, verwys. Volgens Botha is dit bitter moeilik om tans te probeer bepaal wat plaasaanval en –moordstatistieke is, aangesien die Polisie dit nie noodwendig meer apart aanteken nie en ook nie die syfers wat hulle wel het, bekend wil maak nie.
“Ons meen wel die situasie is meer stabiel na die openbare uitsprake wat gemaak is en die landelike veiligheidsplan wat geïmplementeer is. Met dié plan is daar meer aanspreeklikheid op “cluster” en provinsiale vlak. Dit kom voor of landelike inwoners ook meer betrokke raak by gemeenskapsveiligheidsinisiatiewe,” aldus Botha.
18 Februarie 2011