
Volgens mense wat hom goed geken het, was mnr. Brian Corbishley (79) van Greytown ’n buitengewone sakeman. Hy het ’n versiende benadering ten opsigte van opvoeding gehad en het deur sy maatskappye vir tienduisende mense werk geskep. Op sy onlangse begrafnis is hy ook by uitstek as ’n mentor, vriend en gesinsman beskryf.
Corbishley het sy lewe lank verwys na die behoefte om miljarde mense kos te gee. Hy het vroeg besef dat die produksie van puik mieliesaad baie belangrik is om dié doel te verwesenlik. Daarom het hy in 1957 die meerderheid aandele in ’n jong onderneming teen die koninklike bedrag van 300 pond gekoop met geld wat hy by sy pa geleen het. Hy het die maatskappy Pioneer Seed Company op 27 Mei 1958 geregistreer.
Min het die 21-jarige man geweet dat dié maatskappy een van die grootste saadmaatskappye in Afrika en ’n gerekende belanghebbende in die Suid-Afrikaanse én internasionale saadbedryf sou word.
Pioneer Saad het later Pannar geword
Pioneer Saad het later Pannar geword en is in 2013 aan die multinasionale maatskappy DuPont verkoop.
Sedert 1958 het Corbishley sy maatskappy deurlopend laat groei en uitgebrei met die oprigting van verwerkingsaanlegte, navorsingslaboratoriums en produksie- en bemarkingsgeriewe oor die hele Suid-Afrika. In die 1980’s het die maatskappy sy stempel in ander lande in Suider-Afrika afgedruk.
Intussen het Corbishley ook ’n hele paar filiale bekom. Dit sluit in Starke Ayres (tans die grootste groentesaadmaatskappy in private besit in Afrika), Pidelta (’n boerdery op ongeveer 8 000 ha), Kombat (’n vervaardiger van landbouchemikalieë), Mascor (die grootste verskaffer van landboutoerusting in KwaZulu-Natal en een van die grootste John Deere-handelaars in Afrika), Triton Express (’n internasionale logistieke maatskappy) en EGT (’n houtfabriek). Hierdie filiale was deel van die maatskappy wat tydens Pannar se oorname deur DuPont sy naam na Plennegy (Edms.) Bpk. verander het.
Hy was enigma
Twee jaar ná Corbishley se geboorte in Durban het die Britse staatsman Winston Churchill Rusland beskryf as ’n “raaisel, toegedraai in ’n geheim binne ’n enigma”. Sommige mense meen dit is ’n raakvat-opsomming van Corbishley. In ’n huldeblyk op Pannar se webblad word hy beskryf as iemand wat beginselvas was, asook streng, sterk en selfgeldend.
“Honderde mense het staatgemaak op sy visioenêre sienswyse en sakesin. Hy kon ingewikkelde saketransaksies deurvoer en probleme vroegtydig voorsien en oplos,” lui die huldeblyk.
Corbishley het ook ’n buitengewone insig in internasionale politiek en taktiese ekonomiese skuiwe gehad. Volgens mense wat hom geken het, het hy ’n fyn oog vir detail gehad en kon hy die bereiking van ’n doelwit meedoënloos najaag.
Tog het hy ook genot geput uit kleiner dinge in die lewe. Hy was ’n ywerige voëlkyker, was baie lief vir die Krugerwildtuin, hy het dit geniet om blokkiesraaisels en Sudoku in te vul en het veral die weervoorspelling fyn dopgehou.
Kinders van môre
Hoewel Corbishley sy tyd as seun op kosskool verafsku het (hy het gereeld ontken dat hy ooit formele onderrig ontvang het), was puik onderrig van die toekomstige geslag vir hom uiters belangrik. Daarom het hy en sy vrou, Dorothy (Dot), die Wembley-kollege 20 jaar gelede in Greytown gestig.
Ingevolge die huldeblyk het Corbishley geglo die beste geskenk wat enigiemand kan bied, is tyd aan hul geliefdes.
“Almal wat hom geken het, het geweet hulle kan hom nader en weet hulle kan op hom vertrou om sy volle aandag aan hulle te wy.”
Al was sy siening van sekere dinge uiters konserwatief, was hy revolusionêr in sy denke en werkswyse. Hy is beskryf as iemand wat ’n invloed op verskeie geslagte gehad het en selfs van die eienskappe van die jongste, die Millennium-generasie, gehad het.
Hy het nederig gebly
Ten spyte van sy sukses het Corbishley nederig gebly en nooit daarvan gehou as ’n ophef van hom gemaak word nie. Toe nóg een van sy verkrygings (’n lugvaart-filiaal) ’n nuwe Falcon-stralervliegtuig se registrasienommer ZS-BDC (met sy voorletters) bekend gemaak het, was hy erg verleë. ’n Verpersoonlikte lugvaartregistrasie was, volgens hom, veels te veel en onnodig.
In die huldeblyk word gesê die maatskappye wat hy begin het en sy erfenis sal van krag tot krag gaan. “Al kan daar probleme en verandering wees, was Brian nie iemand wat kon stilstaan en stagneer nie.
Luidens die huldeblyk het tienduisende mense werksekerheid en vaste gesinstrukture danksy die maatskappye en skool wat Corbishley begin het. “Greytown is voorwaar ’n geseënde plek dat hy dié dorp die middelpunt van sy sakeryk gemaak het.”
Hy laat sy vrou, Dot, ses kinders (Karen, Duane, Pauline, Barbara, Michael en Colin en hul eggenote), 15 kleinkinders en een agterkleinkind agter.