
Talle boere van die distrik Stilbaai oorweeg dit om die landbou te verlaat, ná hewige brande die plaaslike gemeenskap tot stilstand geruk het.
Sowat 22 000 ha en nege strukture – waarvan vyf huise was – is afgebrand en 16 skape is dood. Volgens me. Jeanne Boshoff, woordvoerder van Agri Wes-Kaap, het duisende hektare fynbos en dekriet afgebrand. Infrastruktuur, soos heinings en besproeiingstoerusting, het ook deurgeloop. Die brande het ook skamele watervoorrade uitgeput.
Weidingskrisis
Die brande, wat bykans ’n week lank tussen Stilbaai en Riversdal gewoed het, is Sondag (22 Januarie) finaal geblus. Volgens mnr. Thinus van den Berg, raadslid by die Hessequa-munisipaliteit, staar ’n weidingkrisis boere nou in die gesig.
Hy sê die brand was angswekkend om te sien en is ’n ramp vir boere van dié omgewing. “Sommige boere het al hulle weiding verloor. Daar is van die boere wat nie hul boerdery sal kan voortsit nie. Sommige oorweeg dit sterk om eerder hul vee te verkoop as om die vee in die veld te laat verhonger.”
Boere wat hul veeboerdery met dekriet aangevul het, het groot skade gely omdat afgebrande dekriet eers ná jare weer ’n inkomste sal kan bring.
Die Wes-Kaapse departement van landbou is besig met skadebepalings in die omgewing. ’n Dringende werksessie sal deur Working on Fire aan die Hessequa-boeregemeenskap aangebied word oor die uitreiking van brandpermitte vir isolasiebrande, asook die prosedure daaraan gekoppel. Die brandtyd is nog nie verby nie en voorkomende maatreëls word getref om verdere skade te beperk.
Gemeenskap staan saam
Tog is die prentjie nie net donker nie, reken Van den Berg. “Die gemeenskap het werklik saamgestaan tydens dié brande. Mense wie se huise afgebrand het, is versorg, vure is geblus, water, oogdruppels en kos is aangedra.”
Die Stilbaai-sakekamer het ook ’n noodfonds gestig om boere wat deur die brande geraak is, te help.
“Die plan is om eers twee gesinne wat alles verloor het, te help om kos op die tafel te sit. Ons wil ook lusern en voer vir die beeste en skape aankoop om boere te help wat geen weiding oor het nie,” sê Van den Berg.
Lesers wat ’n bydrae wil lewer, kan ’n inbetaling doen in die volgende rekening:
Skenk by Smit Prokureurs Ingelyf Trust
Nedbank-rekeningnommer: 1119191785
Takkode: 184705
Verwysing: JS2095 Brandnoodfonds.