
Mnr. Johan Styger, eienaar van BTB Simmentalers by Klerksdorp, is Suider-Afrika se Stoetteler van die Jaar.
Hy het hierdie gesogte toekenning op die jaarlikse Aldam-vleisbeesskool ontvang, waar hy met twee ander stoettelers, mnre. Joggie Briedenhann, Bonsmarateler van Stampriet in Namibië, en Christopher Sparks, Brangusteler van Harrismith, vir die titel meegeding in dié wedstryd wat deur Pick n Pay, Landbouweekblad en Breedplan aangebied word.
Styger word bestempel as ’n wetenskaplik-georiënteerde boer wat daaraan glo om dinge reg te doen.
Mnr. Mninawa Hargreaves Qotoyi van Mountain Dew is die wenner van die Pick n Pay-toekenning vir die Boer met die Beste Vordering die afgelope 10 Jaar. Hy boer met Bonsmaras, Dohne-Merino’s en Jerseys by Eliot-distrik in die Oos-Kaap.
Stoetbul van die Jaar
Twee stoeterye deel die toekenning vir die Stoetbul van die Jaar. Hulle is die Bonvu-Brahmanstoetery van mnre. Andries Marx en Fanie van der Merwe van Biesiesvlei en Vereeniging, en Bertie van Zyl Edms Bpk van Letsitele, wat met Pinzgauerbeeste boer. Bonvu se bul heet BON 14/5 en die Pinzgauerbul is B 13/90.
Die ander finaliste was ’n Angusbul van mnr. Janke Vosloo, Anvos-stoetery, Vryburg, ’n Limousinbul van mnr. André du Toit, La Rhone-stoetery, Tulbach, en ’n Brangusbul van mnr. Helgard Truter, Sleewijk-stoetery, Bloemfontein.