
Só het mnr. Willie Jacobs, Aartappels Suid-Afrika se nuwe uitvoerende hoof, gesê oor dié organisasie se #WhenHopeWhispers-veldtog wat hy onlangs op die eerste stand van die aartappelbedryf- (Sopia) geleentheid in Pretoria bekend gestel het.
Jacobs hoop dat Sopia ’n jaarlikse instelling sal word waar al die belanghebbendes in die aartappelbedryf die geleentheid het om nabetragting te doen oor die jaar se hoogte- en laagtepunte. Die klem was vanjaar op die impak wat die Covid-19-pandemie op besigheid, die aartappelbedryf en mense se gesondheid gehad het.
Die #WhenHopeWhispers-veldtog gaan juis oor die helde in die loopgrawe van die waardeketting wat die afgelope jaar planne beraam het om ondanks die pandemie, aartappels van die landerye tot op mense se borde te kry.
Jacobs het in sy openingsrede gepraat oor die bydrae wat aartappels tot die Verenigde Nasies se volhoubaarheidsdoelwitte kan lewer. Hy glo die #WhenHopeWhispers-veldtog se tydsberekening is perfek om die Verenigde Nasies se jaar van vrugte en groente-inisiatief aan te vul.
By die Sopia-geleentheid het belanghebbendes geluister na mense se stories van oorlewing, mense wat oor die maatskaplik-ekonomiese impak van die Covid-19-pandemie geseëvier het. Hierdeur hoop Aartappels SA om ’n bydrae te lewer tot beleidsvorming, strategieë en werkswyses wat sal help om die huidige probleme en dié van soortgelyke gebeure in die toekoms die hoof te bied.
Sowat 52 407 ha was van 2010 tot 2020 onder aartappelproduksie in Suid-Afrika en die bedryf het in dié tyd 2,3 miljoen ton aartappels geproduseer. Die primêre sektor se waarde word op R8 miljard geskat en sekondêre bedrywe verdien ’n verdere R25 miljard per jaar. Jacobs het gesê die rol wat aartappels in die verligting van armoede, hongersnood en werkloosheid speel, moet nie onderskat word nie.
Produsente verskaf werk aan 50 000 tot 60 000 mense per jaar en die informele sektor vervul ’n sleutelrol in die verspreiding van aartappels in townships en informele nedersettings.
Helde van die sektor
Die Covid-19-pandemie het die informele sektor aanvanklik die hardste getref, het Jacobs gesê. “Ons statistieke wys dat hierdie handelaars 66% van al die aartappels op ons varsproduktemarkte aankoop. ’n Mens kan jou nie indink hoe hard die eerste twee weke van vlak 5 van die staat van inperking hierdie mense getref het nie.
“As ’n bedryf is ons bevoorreg om hierdie groep handelaars te hê. Ons is oneindig dankbaar vir die manier waarop hulle aartappels in hul plekke van handel verkoop, van straathoeke tot taxihaltes en treinstasies.”
Boere se lof is ewe hard besing tydens die Sopia-geleentheid, veral vir die manier waarop hulle die werksplek en werksreëlings moes aanpas om werkers se gesondheid te beskerm. Die impak van inperkings op die restaurant- en kitskosbedryf op vlak 4 en vlak 5 het die landbousektor gedwing om alternatiewe bemarkingskanale vir hul produkte te kry. Dit het verskeie belanghebbendes in die bedryf gedwing om op nuwe maniere saam te werk, terwyl dit die noodsaaklikheid van goeie kommunikasie beklemtoon het.
Dít is ook wat Jacobs deur die Sopia-inisiatief probeer aanpak: die behoefte aan beter kommunikasie onder belanghebbendes in die aartappelbedryf.