
Hoë vlakke van stres en angstigheid om restitusie met min personeel gedoen te kry, veroorsaak ’n hoë personeelomset by die kommissie vir die herstel van grondregte, het me. Nomfundo Ntloko-Gobodo, hoofgrondeisekommissaris, gesê toe die kommissie vrae van die parlement se portefeuljekomitee op landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling moes beantwoord oor sy 2020-’21-jaarverslag.
Me. Annette Steyn, die DA se skaduminister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, wou weet wat die redes vir die bedankings is en of die kommissie uittree-onderhoude doen om dit vas te stel.
In dié tydperk het 15 amptenare bedank, wat 40% verteenwoordig van al die personeel wat die kommissie verlaat het. Die res word verteenwoordig deur 20% sterftes, 20% afdankings en 20% aftredes. Die bedankings het 15 vakante poste meegebring wat nie gevul kon word nie weens die moratorium op aanstellings wat sedert 2020 geld. Altesaam 80 poste is vakant. Daar is 21 poste vakant in die nasionale kantoor, 10 in KwaZulu-Natal, 9 in Mpumalanga, 8 elk in die Oos-Kaap, Wes-Kaap en Noordwes, 6 elk in Gauteng en die Noord-Kaap, en 4 in Limpopo.
“Ons syfer is hoog. Ons het ’n hoë omset weens die stresvlakke wat geassosieer word met wat ons as die kommissie doen,” het Ntloko-Gobodo verduidelik.
“Ek sê altyd as jy gaan oorleef om by die kommissie te werk, moet jy passie hê vir die werk, want ons het te min personeel. Ons het nog altyd erken dat die gemeenskappe baie gefrustreerd is ten opsigte van die herstel van die uitstaande eise en daarom ervaar ons baie stres en angs.”
Polisie begeleiding
Sy het die komitee ook ingelig dat amptenare, wanneer hulle met gemeenskappe moet konsulteer, soms die polisie moet saamneem vir beskerming, want daar was al kere dat hulle gyselaar gehou is.
“Ons het al ’n geval gehad waar ’n gemeenskaplid doodgeskiet is terwyl personeel met ’n vergadering besig was.”
Die kommissie sal voortaan uittree-onderhoude doen sodat volledige inligting hieroor aan die portefeuljekomitee gegee kan word, het Ntloko-Gobodo beloof.
Mnr. Mcebesi Skwatsha, adjunkminister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het vroeër vanjaar die portefeuljekomitee ingelig oor die probleme wat amptenare ervaar wanneer met die begunstigde gemeenskappe werk. “Die departement was besig met ’n ondersoek na grondregte in Gwatyu, en in sommige gevalle moes die amptenare van die departement met polisiebeskerming soontoe gaan, want die mense wou nie hê hulle moes hul werk doen nie.”