Die vyf stropers wat op 21 April in die klas 6-kategorie van die immer gewilde jaarlikse stroperkompetisie op Grootpan, Noordwes, meegeding het, was, van links die Challenger (vierde plek), Claas (tweede plek), John Deere (vyfde plek), Case (eerste plek) en New Holland (derde plek).
Die Grootpan-stroperdag is vanjaar 14 jaar oud. Dit het begin toe mnre. André en Kobus du Preez, twee broers van Grootpan, tussen Lichtenburg en Koster, in 2005 elkeen ’n stroper gekoop het en toe op die stroperdag wou beslis wie s’n is die beste – André se Case 2388 of Kobus se John Deere 965 STS. Die doel van die kompetisie is om te bepaal watter vervaardiger se stroper is die vinnigste én stroop die skoonste.
Die kriteria vir die beoordeling is spoed (35%), vermorsing (30%), gruis (15%), vreemde materiaal (15%) en mieliepitte of koppe agtergelaat (5%). In die klas 6-kategorie het Case gewen, gevolg deur Claas. John Deere het die klas 8-afdeling gewen, ook gevolg deur Claas.