
Dit gaan nog drie tot vier weke neem voordat die potensiaal van die koringoes in die Swartland akkuraat bepaal kan word, dog mnr. Sean Walsh, besturende direkteur van Kaap Agri, sê die "koringfeite op die tafel" is dat 30% van die oes so swak is dat boere nie gaan stroop nie.
Nog 30% is ondergemiddeld en die res van die oes se potensiaal is nie duidelik nie.
"Ons het nog drie tot vier weke om regtig te weet. Die oes is gemiddeld laat, die afgelope tien dae se hitte en slegte reënvoorspellings kan ’n dramatiese verskil aan ons oeskatting maak.
"Oor die algemeen kan ons nie die oeste van 2016 verwag nie, die kans daarvoor is verby. Baie mense wonder selfs of ons by 2015 se swak oes sal uitkom," sê Walsh.
LEES OOK: Miljarde se verliese wag ná winter
Gereelde reën
Redelik gereelde reën in Augustus en September het die graanprentjie in die suidelike deel van die Wes-Kaap ten goede verander, sê mnr. Henk de Beer, hoofbestuurder: bedrywe by Sentraal-Suid Koöperasie op Swellendam.
"Die laat reën maak ’n groot verskil, veral die afgelope naweek se 15 tot 25 mm oor die grootste deel van ons omgewing, met selfs heelwat meer in sekere dele nader aan George en Mosselbaai omgewing."
Hy sê hoewel daar vroeë graan is wat nog 'n lang entjie moet gaan, is daar baie beter verwagtinge van die oes as 'n maand of wat gelede. "Natuurlik is daar beter en swakker dele, maar in die geheel gesien, kan ons gebied dalk steeds 'n gemiddelde oes realiseer."