
Die oorlog teen renosterstropery het “vlerke gekry” met sowat 40 vlieëniers wat betrokke geraak het, sê eBlockwatch.
Mnr. Andre Snyman, stigter van die eBlockwatch-inisiatief, sê hy is baie opgewonde oor die Pilots Against Rhino Poaching (PARP)-inisiatief wat onlangs by die span teen stropery aangesluit het.
Met behulp van PARP kon me. Semolie Maritz, eienaar van ‘n private reservaat in Limpopo, die afgelope naweek vier renosters (twee volwasse diere en twee kalfies) vind wat vir twee dae soek was. Sy het eBlockwatch gekontak aangesien sy bevrees was dat die diere deur stropers doodgemaak is.
‘n Vlieënier wat in die omgewing was het oor die plaas gevlieg en die diere opgemerk. Die geluid van die helikopter het die diere na ‘n laer deel van die plaas laat vlug waar Maritz hulle kon sien en vir hulle lusern kon uitsit. “Mense kan doen met goeie nuus, en glo my die gemeenskap hier is bly,” sê Maritz.
Vlieëniers
Mnr. Hendrik Brink, een van die stigters van PARP, sê sowat 40 vlieëniers is betrokke by die inisiatief, en hulle het sowat 50 helikopters en vliegtuie tot hulle beskikking. “Ons het reeds teen die einde van September verlede jaar met die inisiatief begin en het gesukkel om die regte vennoot in die saak te vind omdat ons dit as nie-winsgewend wil aanpak, maar dit lyk nou of dinge op dreef kan kom.”
Volgens Brink is van private vlieëniers tot by kommersiële vlieëniers betrokke en het almal private vliegtuie of helikopters wat hulle beskikbaar stel.
Die vlieëniers is van regoor die land, met verskeie wat op die noordelike provinsies en KwaZulu-Natal kan fokus.
17 Januarie 2011