
Voorstelle oor grondplafonne is nie nuut nie en is al in diepte bespreek in werkgroepe tydens die proses om die Groenskrif saam te stel, sê mnr. Dan Kriek, voorsitter van Vrystaat Landbou.
Kriek se kommentaar volg op die beraad in Boksburg wat deur die Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, mnr. Gugile Nkwinti, gelei is. Die eindfokus van die beraad was egter eerder op die instelling van grondplafonne van 4000 ha, 8000 ha en 12000 ha vir kleinskaalse, mediumgrootte en groot boere.
In ’n nuusverklaring verwys Kriek na ’n studie deur mnr. Andrew Makanete, ’n bekende landbou-ekonoom, en prof. Herman van Schalkwyk, rektor van die Universiteit van Noordwes se Potchefstroom-kampus, oor die impak van grondplafonne in die landbou.
Die studie het bevind dat grondplafonne – gebaseer op die toepassing daarvan in ander lande – groot nadele vir Suid-Afrika en die plaaslike landboubedryf kan inhou.
Kriek sê die potensiële impak, volgens die studie is:
- ’n Afname van elke R1 miljoen in produksie sal tot die verlies van 29,3 werksgeleenthede lei.
- Dit sal verdere druk op boere se winsgewendheid plaas. Veral kleiner boere sal nie in staat wees om in die huidige ekonomiese omgewing te oorleef nie. Ekonomiese ontwikkeling van grond vir grootskaalse kommersiële en ander doeleindes sal skipbreuk lei. Regstreekse buitelandse beleggings sal afneem.
- Wat plaasskuld betref, sal grondplafonne boere onder druk plaas aangaande ekonomie van skaal. Plase wat nie volhoubaar kan boer onder grondplafonne nie, kan bankrot speel.
- Herverdeling van grond kan bemoeilik omdat die grond wat beskikbaar gestel moet word, nie uniform is of noodwendig in een gebied is nie.
- Die instelling van grondplafonne kan tot werks- en ekonomiese produksie verliese op plase lei, en tot voedselonsekerheid in markte lei.
- Nuwe sosio-maatskaplike wetgewing kan ‘n impak op die private sektor en buitelandse belegging hê. Begunstigdes van grond sal verdere steun van die staat benodig en hulle sal dus oneweredige staatshulp ontvang.
- Grondplafonne kan verblyfsekerheid benadeel, asook sekuriteit vir krediet benadeel wat produksie sal beïnvloed.
- ’n Ondoelttreffende program vir grondplafonne in die gewassektor kan lei tot ’n 4% verlaging in die handelsbalans.
Kriek sê die uitkomste van grondplafonne in ander dele van die wêreld asook die moontlike plaaslike impak, argumenteer teen enige optimistiese verwagtinge. Alternatiewe strategieë moet oorweeg word, soos SEB binne die landbou, gelykheidskemas en modelle om die sukses van lewering te verbeter.
“ ’n Sinvolle manier om oor grondgroottes the debatteer is in die konteks van ekonomiese eenhede waarvoor finansiering beskikbaar gestel kan word vir ekonomiese volhoubaarheid,” aldus Kriek.