
Volgens Buys dui inligting wat Vrystaat Landbou ontvang het, dat van 15% tot 20% van die polisievoertuie in die Vrystaat gestrand is in staatsmotorhuise en op herstelwerk wag. Indien daar in ag geneem word dat daar, volgens die polisie se jaarverslag vir 2021, 3 848 aktiewe polisievoertuie in die Vrystaat is, beteken dit dat 680 tot 900 polisievoertuie nie beskikbaar is nie.
Buys meen dat die polisie in die Vrystaat tot 25% meer diensbaar sou wees as die bestaande voertuigvloot ten volle aktief was aangesien daar 10 575 polisiebeamptes (drie per voertuig) in die provinsie is. “ ’n Tekort aan voertuie word gereeld uitgewys as rede waarom die polisie in hul pligte misluk. ’n Beperkte begroting kry die skuld vir beperkte polisiëring. As bogenoemde getalle in ag geneem word, kan begrotingsbeperkings nie die rede vir swak polisiëring wees nie.”
Die syfers dui volgens haar daarop dat bestuur binne die polisie die enigste oorsaak van beperkte polisiëring kan wees aangesien gebrekkige vlootbestuur en nie begrotings nie die instandhouding van voertuie beperk. Sy sê swak polisiesigbaarheid is ook nie die begroting se skuld is nie, maar dui op ’n onvermoë om pligte uit te voer.
Buys meen ook dat gebrekkige aanwending van bestaande bedryfsvermoë reg oor al die polisie-afdelings op ’n gebrek aan kundigheid dui. “Die werklikheid dui daarop dat die gebrekkige bevel-en-beheerstruktuur en die aanstelling van onbevoegde persone binne die SAPD tot gevolg het dat die polisie nie hul hulpbronne reg aanwend nie.”
Mnr. Jakkals le Roux, voorsitter van Vrystaat Landbou se landelike veiligheidskomitee, sê ongeag begrotings is dit swak bestuur wat lei tot prosesse, strukture, mannekrag, voertuie en logistieke vermoëns wat misluk. “Die polisie laat Suid-Afrika in die steek omdat hulle nie hierdie interne probleme kan oplos nie.”