
Wat hierdie aspekte betref, is Suid-Afrika agter baie ander lande, insluitend Kenia wat ’n gesofistikeerde opspoor-en-naspoorstelsel vir tabakprodukte het.
Prof. Corné van Walbeek, direkteur van die Universiteit van Kaapstad se navorsingseenheid oor die ekonomie van aksynsbare produkte, sê vyf belangrike voorstelle is in die wetsontwerp op die beheer van tabakprodukte vervat.
Dit is die regulering van elektroniese sigarette as tabakprodukte, hoewel dié produkte nie altyd tabak bevat nie; om alle openbare ruimtes, insluitend tans afgebakende rookareas van gasvryheidsinstellings, rookvry te maak; ’n verbod op verkoopoutomate wat tabakprodukte verskaf; die verwydering van alle tabakverwante advertensies en tabakprodukte by die verkooppunte van hierdie produkte, buite die sig van mense; en die vereiste dat alle tabakprodukte in algemene verpakking aangebied word met slegs die handelsnaam van die produk saam met gesondheidswaarskuwings.
Hy sê die regering wil voldoen aan die vereistes van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se raamwerkkonvensie oor tabakbeheer, en die riglyne vir die verskillende artikels waarop meer as 90% van die wêreldlande ooreengekom het. Die afname in tabakverbruik wat die regering met die wetsontwerp wil bereik, is nie gunstig vir die plaaslike tabakbedryf nie.
‘Blokkies-merk-oefening’
In ’n verklaring beskryf die Suid-Afrikaanse tabaktransformasie-alliansie (Satta) die openbare deelname van die departement van gesondheid oor die tabakwetsontwerp as ’n “skyn” en “blokkies-merk-oefening”. Hy sê die voorstelle van die wetsontwerp is nie op onafhanklik uitgevoerde ekonomiese beoordelings van die nasionale tabakwaardeketting gegrond nie.
Satta verklaar dat hy “die stem” van die wettige tabakbedryf in Suid-Afrika is, en dat hy die totale plaaslike tabakprodukwaardeketting verteenwoordig, insluitend tabakboere, verwerkers en vervaardigers. Satta se lede is die Swart Tabakboerevereniging, Limpopo Tabakverwerkers, Tabakprodusente-ontwikkeling, en British American Tobacco (Batsa).
“Ons glo vas Suid-Afrika moet eerder ’n benadering tot die toekoms van die sigaret- en tabakbedryf volg wat op bewyse gegrond is, as die weg van vervolging en straf wat tans gevolg word. Ons kan nie die bedreigings van die onwettige tabaksektor vir die wettige sektor oorbeklemtoon nie. Dit behoort die belangrikste faktore te wees wat enige nuwe benaderings tot wetgewing rig. In ons taal word hulle ekonomiese werklikhede genoem,” sê me. Ntando Sibisi, voorsitter van Satta, in die verklaring.
Verbod
Van Walbeek sê Suid-Afrika het inderdaad ’n groot probleem met die handel in onwettige tabakprodukte. Die vyf maande lange verbod op die verkoop van wettige tabakprodukte in 2020 het die probleem vererger.
Weens die verkoopsverbod het talle mense permanent oorgeskakel na handelsmerke wat tradisioneel teen sulke lae pryse verkoop is dat dit onmoontlik is dat alle belastings betaal word. Die meeste van hierdie sigarette word deur nie-multinasionale ondernemings vervaardig.
Hy sê in verskillende mate is alle tabakmaatskappye in Suid-Afrika by die onwettige handel betrokke.
Van Walbeek vind dit interessant dat die Fair Trade Independant Tabacco Association (Fita), wat uit ses plaaslike tabakvervaardigers bestaan, verklaar het dat hy van die voorstelle van die tabakwetsontwerp ondersteun, spesifiek dié wat gewone verpakking betref.
Mnr. Sinenhlanhla Mnguni, voorsitter van Fita, sê hoewel dit goed en wel is om nuwe beleid in te stel wat daarop gemik is om Suid-Afrika se wettige en onwettige tabakprodukte beter te bestuur, bly die doeltreffende handhawing van bestaande en voorgestelde wetgewing ’n groot probleem.
“Daar is nog steeds baie nie-nakoming in die waardeketting van die tabakbedryf. Ons hoop dat die regering in die toekoms meer hulpbronne sal gebruik om die wettige bedryf te beskerm en om te verseker dat kwessies, soos die ongebreidelde smokkel van sigarette wat die fiskus van miljarde [rande] beroof, uitgeroei word.”
Van Walbeek meen Suid-Afrika het nog nie die WGO se protokol bekragtig om onwettige handel in tabakprodukte aan te pak nie, omdat geen staatsdepartement in beheer daarvan wil wees nie. Die protokol vir beste praktyke om onwettige handel te verminder, is in ’n internasionale verdrag vervat. Dit sluit in lisensievereistes, vereistes van “ken-jou-kliënt”, en die gebruik van opsporings- en nasporingstegnologie.
“Die handel met onwettige tabakprodukte is nie net ’n fiskale kwessie nie; dit is nie net ’n wetstoepassingskwessie nie; en dit is nie net ’n gesondheidskwessie nie. Dit betrek die hele staatsdiens.”
Die departement van gesondheid het nie op Landbouweekblad se navrae oor die tabakwetsontwerp gereageer nie.