
Boere in die suidelike deel van die Wes-Kaap het nog nie begin platsny nie, maar sê daar staan uitstekende koring-, gars- en kanola-oeste.
Mnr. Pietman Uys van die plaas Sandfontein, Heidelberg, sê hy beleef ’n uitsonderlike jaar. “Daar is nêrens iets wat tekort skiet nie. Ons moet net goeie weer kry om die oes in die silo te kry.”
Ook mnr. Boeta Wessels van die plaas Karsrivier by Bredasdorp sê by hulle staan ’n bogemiddelde oes, maar dat verdere reën nog ’n verskil kan maak aan die laat graan en syhalms.
Hoewel dele van die Swartland vanjaar goeie oeste verwag, reën dit net nie genoeg rondom Piketberg nie. Mnr. Abri Richter van die plaas Panorama sê die grond raak nooit nat genoeg nie. Vanjaar word reën dikwels deur baie warm weer gevolg, met skadelike gevolge vir die koring. Hy sê die oes wat op die lande staan, is ’n “wonderwerk” as ’n mens in ag neem hoe min dit nog gereën het.
Hy het vanjaar gesien dat die graan in die kampe waarvan hy die skape weggehou het, die beste met die min reën gevaar het. “Op die lande wat die skape redelik kaal gewei het, kan jy die verskil sien.”
Verder is hy baie dankbaar dat hy ’n groot deel van sy lande met ’n skyfplanter gesaai het. Dit het beteken dat hy in die droë grond kon saai voor die reën gekom het. Dáárdie koring kon al die reën wat wél geval het, benut.