
Sowat 90% van Soetendalsvlei is op Internasionale Vleilanddag vandag by die Agulhas Nasionale Park ingesluit. Dit vergroot die park met 2 345 ha.
Soetendalsvlei speel ’n noodsaaklike rol in die aanvul van grondwater en die verskaffing van vars water vir boerderye.
Die vlei loop in die Heuningnesrivier in wat by De Mond Natuurreservaat tussen Struisbaai en Arniston in die see vloei. Die riviermonding bied ’n veilige hawe vir trekvoëls en vir broeivis.
Deur hierdie gebied te bewaar, indringerplante uit te roei en ander druk daarop te verminder, hoop SANParke en die WWF om in die toekoms Soetendalsvlei se ekologiese funksies in ooreenstemming met vanjaar se Wêreldvleilanddagtema van herstel, te beveilig.
Vleilande is reg oor die wêreld van die mees bedreigde ekostelsels, dog hulle word dikwels toegelaat om agteruit te gaan.
Volgens dr. Luthando Dziba, besturende uitvoerende hoof vir bewaringsdienste by SANParke, is ’n voordeel van die verkryging van die plaas waarop Soetendalsvlei geleë is, ook ’n manier om skaars veldsoorte, soos die krities bedreigde sentrale Rûens-skaalrenosterveld, kwesbare Agulhas-sandfynbos en kalksteenfynbos wat deur soortgelyke bedreigings in die gesig gestaar word, te beskerm.
Soetendalsvlei is aangewys as sowel ’n kritieke biodiversiteitsgebied as ’n belangrike voëlgebied wat meer as 60 watervoëlspesies ondersteun. Voëlspesies sluit in voëls soos die Damarasterretjie, groot wit pelikaan en twee flaminkspesies oor wie se status daar kommer bestaan, en ook meer as 21 000 trek- en voëls wat by die vlei bly.
Dziba sê die insluiting van Soetendalsvlei en aangrensende grond voeg ook aansienlike waarde tot die park se kulturele en argeologiese aanbod toe. “In die verlede het mense die aangrensende soutpanne gebruik om sout vir plaaslike gebruik te raap en later na Kaapstad te vervoer.”
Boonop lê droogte elke 50 tot 100 jaar die vlei se bedding droog. Dan kan ’n mens van die argeologiese en kulturele artefakte sien.
Die vlei se naam kom van die Zoetendaal, ’n Nederlandse skip wat in 1673 daar naby op die rotse geloop het. Die skipbreukelinge wat land in geloop het, het op die varswatervlei afgekom en dit na die skip genoem. ’n Plaaslike Khoikhoi-hoofman en beeshandelaar het hulle gehelp om na die nedersetting wat nou Kaapstad is, te gaan.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.