
Die boere, meestal vroue, is deel van 25 koöperatiewe verenigings wat deur Tongaat Hulett, die regering, gemeenskapsleiers en die Jobs Fund ondersteun word. Hulle het altesaam 280 400 ton suikerriet in die 2020-’21-seisoen gelewer.
Die koöperasies is deel van ’n groter projek om volhoubare landelike ontwikkeling te versnel, werk te skep en om kleinskaalse boere in die gebiede rondom Tongaat Hulett se suikermeulens te help om op kommersiële skaal te produseer, luidens ’n verklaring wat dié suikerreus uitgereik het.
“Met die hulp van die tradisionele leierskapstruktuur en die betrokke staatsdepartemente het gemeenskapslede hul landerye begin benut om ’n inkomste vir hulself en die gemeenskap te skep,” sê me. Nkonzo Mhlongo, Tongaat Hulett se hoof van korporatiewe aangeleenthede.
Die 25 koöperasies het suikerrietprojekte gevestig op sowat 7 175 ha rondom vier van Tongaat Hulett se meulens: Maidstone, Amatikulu, Darnall en Felixton. Altesaam 1 168 werkgeleenthede is geskep. Die meeste van die lede is landelike vroue wat die hoof van hul huishoudings is.
Een van die koöperatiewe verenigings wat deel van die kommunale huurpagmodel is, is die Mngampondo-besproeiingskema waar sowat 200 ha suikerriet onder besproeiing verbou word. Die vereniging bestaan uit 127 lede met 11 uitvoerende bestuurslede. Hy het volgens die verklaring in die 2020-’21-seisoen R1 049 757 van Tongaat Hulett ontvang vir die 16 640 ton wat hy gelewer het. Die projek word ook deur die Jobs Fund ondersteun.
Mnr. Mduduzeni Shobede, voorsitter van die Mngampondo-koöperasie, sê dis een van ’n paar besproeiingskemas wat op kommunale grond gevestig is. “Hierdie projek het ’n sleutelrol gespeel om die maatskaplike en ekonomiese welvaart van die gemeenskap te verbeter. Suikerrietproduksie is baie arbeidsintensief en veral as ons oes, is daar baie werkgeleenthede.”
Shobede sê die projek het sy lewe verander. Hy werk as ’n opsigter en sê sy betrokkenheid by die projek het hom gehelp om ’n huis vir sy gesin te bou en vir sy kinders se opleiding te betaal.
Op haar beurt sê Mhlongo die maatstaf vir die sukses van enige koöperasie is nie noodwendig die winsgewendheid van die struktuur nie, maar ook die bykomende voordele wat dit vir sy lede en die breër gemeenskap bied. Só het Tongaat Hulett en die Siyazisiza Trust die plaaslike laerskool by Mngampondo gehelp om sy eie groentetuin te vestig. Dit het werk vir lede van die gemeenskap geskep wat nie deel van die suikerrietprojek wou wees nie.