
Volgens die kommissie vir internasionale handelsadministrasie (Itac) is hierdie tarief op 19 Augustus van 299,46c/kg tot 195,28c/kg verlaag.
Mnr. Thalukanyo Nangammbi, Itac-woordvoerder, sê die verlaging van die tarief is meegebring deur Suid-Afrika se veranderlike tariefformule vir suiker. Die gewone doeanereg op suiker word bereken as die verskil tussen die 20 verhandelingsdae bewegende gemiddelde van die Londense nr. 5-vereffeningsprys en die vasgestelde binnelandse verwysingsprys vir suiker. Verskeie ander faktore word ook in die berekening in ag geneem.
“Aanpassings aan die vlak van beskerming wat toegestaan word, word gemaak wanneer hierdie verskil ’n afwyking van meer as $20/ton van die vorige snellervlak toon.”
Dr. Thomas Funke, hoof- uitvoerende beampte van die SA Suikerrietkwekersvereniging, sê die dollargebaseerde verwysingsprys se snellervlak is tans op $680/ton suiker vasgestel.
Volgens Nangammbi het die verlaging van die invoertarief nodig geword toe die 20-verhandelingsdae bewegende gemiddelde van die Londense nr. 5-vereffeningsprys teen middel April $550,73/ton bereik het.
“Die kern van die veranderinge in die vlak van tariefondersteuning was bewegings in die wêreldprys van suiker. Sedert Maart 2022 het wêreldsuikerpryse gestyg, wat ’n verlaging in die tarief op suiker noodsaak.”
Funke sê hoewel die SA Suikerrietkwekersvereniging die noodsaaklikheid verstaan om Suid-Afrika se invoerreg in ooreenstemming met die jongste wêreldsuikerprys te bring, maak die verlaging die invoer van buitelandse suiker ongelukkig bekostigbaarder.
Monitering
Mnr. Trix Trikam, uitvoerende direkteur van die SA Suikervereniging, sê sy vereniging sal enige potensiële nadelige impak wat hierdie verlaging op die waardekettingmeesterplan vir suiker kan hê, monitor.
Voor die ondertekening en inwerkingstelling van die meesterplan vir die suikerrietwaardeketting was die bedryf in die moeilikheid en het jaarliks ongeveer 1,25 miljoen ton suiker aan die mark van die Suider-Afrikaanse Doeane-unie (Sadu) verkoop. “Ons surplus suiker moes na die verliesmakende uitvoermark herlei word. Twee van die meesterplan se voorrangsake is die optimalisering van die plaaslike mark en die skep van duidelik gediversifiseerde oplossings wat die bedryf se inkomstestrome sal verhoog en volhoubaarheid sal verseker.”
Landbouweekblad het die afgelope jare berig hoe die finansiële volhoubaarheid van Suid-Afrika se suikerrietwaardeketting tot by die rand van ineenstorting was, grootliks as gevolg van honderde duisende ton suiker wat jaarliks ingevoer en teen minder as die koste van plaaslike suikerproduksie verkoop is. Die ingevoerde suiker het gelyke hoeveelhede Suid-Afrikaanse suiker na die verliesmakende wêreldsuikermark verplaas.
Trikam verwelkom die feit dat die meesterplan daartoe gelei het dat baie meer Suid-Afrikaanse suiker weer jaarliks binne die Sadu-mark teen gunstiger pryse verkoop word. Hierdie winste moet egter nie ongedaan gemaak word deur ’n verlaagde invoertarief nie.
Funke wys daarop dat Suid-Afrikaanse suikerrietkwekers finansieel sukkel met die koste van produksie-insette wat met baie meer as inflasie gestyg het. Hy noem die voorbeelde van kunsmis wat met meer as 160% gestyg het, brandstof met meer as 40% en gewasbeskermingsprodukte met meer as 30%.
“In vergelyking hiermee het die verhaalbarewaarde(RV)-prys wat aan suikerrietprodusente vir hul oeste betaal word, teen ’n baie laer koers toegeneem. Dit is deels te wyte aan verpligtinge ingevolge die meesterplan om verbruikersprysindeksverwante suikerprysverhogings (vir die plaaslike mark) te handhaaf.”
Funke sê die enigste ander faktore wat die nasionale RV-prys die afgelope tyd ietwat gunstig geraak het, was die swakker wisselkoers en die verhoogde wêreldprys. Dit is deur die wisselvallige wêreldekonomie en stygende internasionale ruoliepryse aangedryf.
Volgens hom is die situasie onvolhoubaar. Saam met ongunstige plaaslike beleid, soos die gesondheidsbevorderingsheffing (suikerbelasting), plaas dit duisende werkgeleenthede op die spel.