
Die aanbod sluit in die oorname van bates, insluitend die meulens by Maidstone, Amatikulu en Felixton. Die Darnell-fabriek wat tans nie in bedryf is nie, die Huletts-raffinadery, Voermol-dierevoer en alle handelsmerke wat met Tongaat Hulett geassosieer word, is ook by die aanbod ter oorname ingesluit.
Die plan, indien dit aanvaar word deur die suikermaatskappy se sakeredders, kan duisende werksgeleenthede in die noorde van KwaZulu-Natal beskerm en suikerrietboere se voortbestaan in dié streek verseker.
“In ’n poging om ’n oplossing te vind en tot redding van die streek te kom, het ’n konsortium van alle kwekers wat aan Tongaat Hulett riet verskaf, ’n plan aan die maatskappy se sakeredders voorgelê,” sê mnr. Simon Cleasby, woordvoerder vir NewCo, die maatskappy wat die aanbod maak. “Indien die oorname goedgekeur word, sal al die bates binne die ongenoteerde NewCo-maatskappy met beperkte aanspreeklikheid gehou word.”
Die aanbod is namens kwekers wat meer as 5 miljoen ton suikerriet aan Tongaat Hulett se meulens aan die Noordkus van Kwazulu-Natal lewer. “Dit moet die oorlewing van hierdie boerderybedrywighede en die duisende mense wie se lewensmiddele daarvan afhanklik is, beskerm. Maatskaplik-ekonomiese stabiliteit moet in die gebied beskerm word.”
Tongaat Hulett is in vrywillige sakeredding nadat die suikerreus planne vir die herstrukturering van sy skuld van ongeveer R6,5 miljard misluk het. Die maatskappy wat al 130 jaar bestaan, is een van die grootste werkverskaffers in KwaZulu-Natal met ’n halfmiljoen mense in Suider-Afrika wat van die maatskappy afhanklik is vir inkomste.
Luidens ’n verklaring deur NewCo, wat geen verbintenis het met die Suikerrietkwekersvereniging nie, is daar nog geen langtermynoplossing gevind vir die krisis rondom Tongaat Hulett nie.
"Dit is noodsaaklik dat ooreenkomste spoedig onderteken word om instandhouding by meulens betyds te doen sodat dit in bedryf kan wees met die aanvang van die 2023-’24- seisoen."
Gesprekke is blykbaar reeds aan die gang om te verseker daar kan voldoen word aan kapitaalvereistes vir bedrywighede gedurende die volgende seisoen.
Transformasie deel van die plan
“NewCo verteenwoordig een van die min volhoubare geleenthede om meer as 11 000 kwekers wat op klein skaal boer en meer as 20 000 werksgeleenthede in die suikerrietkwekersektor te red; en nie eens te praat van indirekte werksverliese in die streek wat in gedrang is nie.
“Dit is ook ’n geleentheid vir kommersiële én kleinskaalse produsente om sinergie vir wedersydse lewensvatbaarheid en volhoubaarheid op langer termyn te optimaliseer.”
Finansiering
Die reëlings in verband met finansiering sal eers afgehandel word wanneer bindende briewe vir die oorname deur NewCo onderteken is. Die finansiële model moet ook eers ondersoek en goedgekeur word.
“Die voorstel word ondersteun deur ’n visie van 'n inklusiewe en kollektiewe belegging in die bates van NewCo wat behoort aan alle kwekers wat aan Tongaat Hulett lewer. ’n Enkele beleggingsinstrument sal ingespan word met ’n meerderheidsaandeelhouding van swart kwekers. Dít sal verseker NewCo voldoen op lang termyn aan die bedryf se transformasie-doelwitte,” luidens die verklaring.
“Aangesien kwekers wat op klein skaal boer gewoonlik nie grond kan bekom nie, sal alternatiewe finansieringsmetodes verder ondersoek word om hierdie visie na te streef.”
Leierskap
Luidens die verklaring bestaan die konsortium se leierskap uit mense met diverse vaardighede en baie ervaring “wat begrip het vir die feit dat die dryfvere en vermoëns om met suikerriet te boer verskil van suikermeulens.
“Om dié rede sal daar ’n skeiding in rolle en verantwoordelikhede wees wat betref die kweek van suikerriet en die verwerking daarvan om te verseker die bedrywighede by meulens word ten volle benut en is op lang termyn volhoubaar.”
NewCo sal ook probeer om die potensiële sinergie met produsente te maksimeer om groter doeltreffendheid in maalwerk te bereik en die doelwitte van meulenaars en produsente met mekaar te belyn sodat daar optimale besluitneming en bedryfsprestasie kan plaasvind.
“Die konsortium se leierskap het die eerste weldeurdagte stappe in ’n lang en komplekse proses geneem. Dit is daartoe verbind om elke moontlike manier te ondersoek om die bedrywighede van Tongaat Hulett te red en duisende broodnodige werksgeleenthede aan die Noordkus van KwaZulu-Natal te beskerm.”
Hoop vir die toekoms
Die groep sê daar is rede tot optimisme met “die volle ondersteuning van die produsentegemeenskap en belanghebbers in die waardeketting”.
Daar is ook hoop dat die regering, banke en ander belanghebbers saam sal werk om die beste moontlike uitkoms vir produsente, werkers en waardeketting-vennote in die plaaslike suikerbedryf te verseker.
“Só kan ons verseker dat die Tongaat Hulett-meulens voortgaan om suiker wat deur produsente in die omliggende gebiede gelewer word, te verwerk.”Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.