
Dit was ’n egalige styging, anders as die groot skommelings wat in die internasionale mark plaasgevind het, sê mnr. Alwyn Kraamwinkel, hoof uitvoerende beampte van die Suid-Afrikaanse Melkverwerkersorganisasie (Sampro).
Luidens ’n Sampro-verslag oor prysneigings het die prys wat boere vir onverwerkte melk gekry het in die betrokke twaalf maande met gemiddeld 11,2% gestyg en die prys wat verwerkers vir suiwelprodukte gekry het is met 10,9% op. Kraamwinkel sê dit wys verbruikers steun steeds suiwelprodukte, ondanks die druk wat hulle weens stram ekonomiese tye ervaar.
Hy sê verder die prysneigings toon dat die vraag en aanbod na melk en suiwelprodukte redelik in balans verloop het en dat die aanbod die vraag gevolg het. In die internasionale mark het die pryse van onverwerkte melk en suiwelprodukte volgens die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbouorganisasie van Februarie 2013 tot Februarie 2014 met 30,5% gestyg en sedert Februarie vanjaar tot September weer met 31,6% gedaal.
Sampro se verslag toon in Suid-Afrika het die prys van onverwerkte melk, vergeleke met syfers van Statistieke Suid-Afrika oor pryse van primêre landbouprodukte, in die jaar tot einde September soortgelyk aan dié van lewende hawe gestyg. Produsentepryse vir melk het egter baie meer gestyg as onder meer pryse vir vrugte en groente, wat met 1,2% gestyg het, en graangewasse, wat met 6,3% gedaal het. Die stygings in die pryse vir suiwelprodukte was wat verwerkte kos betref soortgelyk aan dié van vleisprodukte, en meer as dié van styselprodukte en dierevoer (8,8%) en gebak (7,7%).
Op langer termyn vergelyk die stygings in pryse van onverwerkte melk en suiwelprodukte goed met die hoër punt van voedselprysstygings. Plaashekpryse vir onverwerkte melk het van Januarie 2012 tot September 2014 met 32,3% gestyg en produsentepryse vir suiwelprodukte met 30,9%.
Op kort termyn wys Sampro se verslag onverwerkte melk en suiwelprodukte se pryse het van Augustus tot September vanjaar met onderskeidelik 1,2% en 2,1% gedaal. Kraamwinkel sê dit is waarskynlik deel van tipiese seisoenale prysbewegings, met pryse wat in die lente- en somermaande daal wanneer produksie gewoonlik hoër is. Met internasionale pryse wat vanjaar skerp gedaal het, kan ingevoerde suiwelprodukte teen mededingende pryse in die komende tyd ’n groter rol in die mark speel, sê hy.