
Die buro vir voedsel- en landboubeleid (BFAP) sê in verslag oor die voedselinflasie die grootste bydraers tot die inflasie was brood en graan (3,6 persentasiepunte), vleis (3,1 persentasiepunte) en melk, eiers en kaas (1,3 persentasiepunte).
Dr. Hester Vermeulen, kenner van verbruikers- en voedselekonomie, sê die vernaamste redes vir die dubbelsyfervoedselinflasie is die styging in wêreldpryse van graan en oliesade, wat plaaslik vererger word deur ’n swakker wisselkoers. In Suid-Afrika verhandel kernkommoditeite soos mielies, sonneblom, sojabone en kanola steeds teen uitvoerpariteit.
“Dit beteken dat die surplusproduksie plaaslike pryse laag hou en dat die inflasie aangedryf word deur internasionale pryse, die swakker wisselkoers en die toenemende koste van logistiek en verwerking wat vervoer, elektrisiteit en lone insluit. Indien daar nie hierdie surplusse was nie, sou pryse tot invoerpariteit gestyg het, wat minstens 30% hoër is en ’n bedreiging vir die maatskaplik-ekonomiese stabiliteit van Suid-Afrika sou kon inhou.”
Sy sê weervoorspellings dui op ’n gunstige somerseisoen en volgens BFAP se projeksies kan boere die grootste somergewasaanplantings in 20 jaar hê, ondanks stygende produksiekoste. “As die gunstige weersomstandighede voortduur, verwag ons dat pryse by uitvoerpariteit sal bly, maar die vlak van uitvoerpariteitspryse sal bepaal word deur faktore buite die beheer van die landbousektor. Al wat ons weet, is dat daar ’n onstuimige tyd voorlê wat voedselpryse en inflasie betref.”
Dr. Tracy Davids, wat veral konsentreer op kommoditeitsmarkte en vooruitskouing, sê om voedselinflasie so laag moontlik te hou, moet boere volhou om surplusse van kernkommoditeite soos mielies te produseer. “Ek dink vir boere self is voedselinflasie dalk minder van ’n kwelling as die inflasie op hul insette soos diesel, kunsmis en elektrisiteit. Al hierdie stygings druk natuurlik ook voedselinflasie op, veral die vervoerkomponent en verwerkingskoste.”
Vermeulen wys daarop dat die styging van 19,3% op ’n jaargrondslag in die prys van brood en graanprodukte ’n aansienlike bedreiging vir die voedselsekerheid van talle Suid-Afrikaanse huishoudings inhou. Volgens Statistieke SA bestee die 50% armste huishoudings sowat 35% van hul voedselmandjie aan styselprodukte. ’n Gesonde voedselmandjie kos nou R3 288 per maand wat R432 meer is as ’n jaar gelede.
Mieliemeel is steeds die bekostigbaarste stapelvoedsel in Suid-Afrika teen 32c per porsie in September, vergeleke met rys (39c/porsie), bruinbrood (95c/porsie) en witbrood (R1,07/porsie).
Vermeulen sê die gaping tussen mieliemeel en rys het aansienlik gekrimp en gegewe die korter voorbereidingstyd vir rys kan dit verbruikers aanspoor om mieliemeel in hul dieet met rys te vervang. “Dit kan die opname van mikro-voedingstowwe aansienlik verminder omdat mieliemeel verryk word en rys nie in Suid-Afrika verryk word nie.”
Mnr. Wandile Sihlobo, hoofekonoom van Agbiz, skryf die styging in landboukommoditeitspryse toe aan ’n verskeidenheid faktore, soos die droogte in Suid-Amerika, hoër verskepingskoste, ’n sterk vraag na landbouprodukte in China en die konflik tussen Rusland en Oekraïne. “Die stygende brandstofpryse sedert die begin van die oorlog help ook om voedselpryse op te jaag.”
Hy sê die een produk in die voedselmandjie waarvan die prysneigings baie onseker bly, is rooivleis. Die uitbreking van bek-en-klouseer het gelei tot die tydelike sluiting van sommige sleuteluitvoermarkte. “Normaalweg sou dit tot prysverlagings lei weens ’n toename in plaaslike voorraad. Die uitbrekings strek egter wyd en daar is ’n effense afname in slagsyfers by sommige voerkrale wat die pryse op relatief hoë vlakke hou. In Augustus byvoorbeeld was beesslagsyfer af tot 206 052, wat 2% laer is as die ooreenstemmende tyd verlede jaar.”
Hy glo internasionale pryse vir graan en oliesade, wat die vernaamste aandrywers vir voedselinflasie is, begin daal en sal oor tyd ook lei tot ’n verlangsaming van die plaaslike voedselinflasie teen die einde van die jaar of die begin van volgende jaar.Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.