“Die Westelike, Sentrale en Oostelike mynkomme is geïdentifiseer as prioriteitsgebiede wat onmiddellike optrede verg weens die gebrek aan voldoende regulasies om die probleme wat aan suur mynwater verwant is te bestuur en hanteer, die dringendheid om ingrypende regulasies te implementeer voordat die probleme meer krities raak en die ligging naby dig bewoonde gebiede.”
Dit is die beskrywing van die taakspan se verslag wat onder meer aan die inter-ministeriële komitee voorgelê is nadat hulle die dekantering van suur mynwater aan die Witwatersrand ondersoek het. Die verslag is Donderdag (24 Februarie aan die publiek bekend gestel.
Die taakspan meen bykomende inligting word benodig om die risikosituasies in ander dele van die land, soos die Mpumalanga steenkoolvelde en die invloed daarvan op die Vaal- en Olifantsriviersisteme, te bepaal.
Risiko vir die landbou
Dié verslag erken dat dekantering en oorstroming van dié mynkomme risiko’s vir vlak grondwater en gevolglik vir die landbou en mense inhou. Dit gaan ook ‘n geografiese impak hê wat tot die oorstroming van ondergrondse infrastruktuur en stygende grondwatervlakke in beboude gebiede gaan lei.
Volgens die verslag kan dit ook ‘n toename in grondverskuiwing lei, wat eiendomme en infrastruktuur kan beskadig.
Voorstelle
Die taakspan het agt oorhoofse voorstelle om die probleem aan te spreek. Dit sluit in die pomp van water uit die drie prioriteitsgebiede sodat dit ten minste aan omgewingskritieke vlakke kan voldoen. Stappe om die vloei van water in mynkomme in te vertraag, is ook belangrik.
Die taakspan sê die behandeling van die besoedelde water is baie belangrik, aangesien dit glad nie vir gebruik geskik is nie. Daarmee saam moet beter monitering van mynwater, grondwater, oppervlakwater, seismiese en ander geotegniese aspekte plaasvind. Hulle meen dat die probleme van dekantering nog ver in die toekoms gaan voorkom, dus moet dit nou behoorlike aandag geniet.
Meer vrae as antwoorde
Intussen sê mnr. Louis Meintjes, voorsitter van die Nasionale Waterforum (NWF), hy meen dié verslag van 146 bladsye laat meer vrae ontstaan as wat dit antwoorde bied. Hy sê die behandeling van die water gaan “ ’n hengse klomp geld kos, is daar genoeg fondse, waar moet dit vandaan kom?”
Volgens die verslag sal dit sowat R11 kos om ‘n kubieke liter water te behandel. Meintjes sê as dit so goedkoop is om ‘n 1 000 liter water te behandel, hoekom is dit nie al lankal gedoen nie.
Die verslag dui ook aan dat bedryfskoste vir behandelde water vir hergebruik sowat R1,40 per liter gaan beloop. “Vir wie se sak gaan daai ekstra R1,40, vir die verbruiker sin? Dis mos nie die verbruiker wat hiervoor moet betaal nie?”
Meintjes sê hy hoop van harte dat dié verslag nie net ‘n samestelling is van alles wat al lankal gesê is nie, maar dat dit die Regering daadwerklike stappe gaan bied om onmiddellik op tree. “As dit die begin van die proses moet wees, gaan daar oor twee jaar, wanneer die strate oorspoel, nog steeds niks gedoen wees nie!”
Kliek hier om die verslag te sien.
25 Februarie 2011