
Die oplewing in die vraag na suurlemoene China en goeie pryse wat daarvoor betaal is, het in ’n mate gehelp om die negatiewe gevolge van swartvlek te versag, sê mnr. Hannes de Waal, besturende direkteur van die Sondagsrivier-sitrusmaatskappy (SRCC).
De Waal sê die regstreekse gevolg van swartvlek is dat minder vrugte na Europa uitgevoer is en die spesiale spuitprogramme om die siekte af te weer, produsente se insetkoste baie verhoog het. “Met die staking van uitvoer na Europa het die dollarprys van sitrus in die Midde-Ooste en Rusland dadelik met tussen 50 en 75 Amerikaanse sent per karton teruggesak. Die koopkrag van die Roebel het ook skerp gedaal na sanksies teen Rusland ingestel is, wat bykomende implikasies vir uitvoer daarheen meebring.”
Met die uitsondering van windskade aan nawels en mandaryne wat effens laer uitpakke meegebring het, was dit klimaatsgewys ’n goeie seisoen in die vallei. Die feit dat dit minder gereën het, was bevorderlik vir doeltreffende spuitprogramme.
Hy sê die sterk oplewing in die vraag na suurlemoene in China is te danke aan hulle regering se gesondheidsprogramme. “Weens die besoedeling daar drink mense daar deesdae al suurlemoenwater om nasale probleme teen te werk. Die vraag na suurlemoene het ook wêreldwyd toegeneem.”
Die SRCC het vanjaar sowat 8,5 miljoen kartonne vrugte uitgevoer, wat effens meer is as die vorige seisoen. Goeie sake is ook by die maatskappy se versappingaanleg gedoen. “Die verswakking van die rand was ’n meevaller aangesien minstens 80% van sitrus vir die uitvoermark bestem is.”
De Waal sê hoewel daar ’n potensiaal is om meer vrugte na markte in Afrika uit te voer, dit ’n mark is wat met omsigtigheid benader moet word. Die SRCC is besig om groot sukses net sy SEB-inisiatiewe te behaal en een van sy produsente is onlangs as die Vroueboer van die Jaar bekroon. “Die plase van swart boere wat reeds in produksie is, is baie suksesvol en SRCC plaas fokus daarop, daarom dat Ken Nieuwenhuizen, vorige Besturende Direkteur nou voltyds daarvoor verantwoordelik is.
Hy is hoopvol dat die verwysing van die swartvlek-kwessie na die Wêreldhandelsorganisasie (WTO) om dit as ’n dispuut verklaar te kry tesame met die gelyklopende ondersoek deur die Internasionale Plantbeskermingorganisasie (IPPC) ’n goeie uitkoms sal oplewer. “Ek glo ons kan uitsien na ’n seisoen met meer realistiese pryse mits deflasie nie in Europa kop uitsteek nie,” het de Waal bygevoeg.