
Die
Amerikaanse departement van handel het pas besluit om teenstortingstariewe van
47,89% op suurlemoensap van die Suid-Afrikaanse onderneming Cape Fruit
Processors te hef en 73,69% op dié van Granor Passi, ook van Suid-Afrika.
Enige ander Suid-Afrikaanse maatskappye wat suurlemoensap na Amerika wil uitvoer, se produkte sal onderhewig wees aan die tarief van 47,89%.
Dit volg nadat die Amerikaanse internasionale handelskommissie in Januarie vanjaar bevind het dat Amerika se suurlemoensapbedryf wesenlike skade ly, of bedreig word deur wesenlike skade, weens die invoer van suurlemoensap uit Suid-Afrika en Brasilië teen minder as billike waarde.
Ten opsigte van Brasiliaanse suurlemoensap het die departement van handel besluit op ’n teenstortingstarief van 22,31% vir sap van Citrus Juice Eireli, 0% op dié van Louis Dreyfus Company Sucos S.A. en alle ander Brasiliaanse ondernemings se sap sal onderhewig wees aan die tarief van 22,31%.
Die tariewe is heelwat laer as waarvoor Ventura Coastal LLC gevra het. Die Amerikaanse maatskappy het in Desember 2021 gevra dat die handelskommissie beweerde storting deur Suid-Afrika en Brasilië ondersoek.
Mnr. Eckart Naumann, onafhanklike ekonoom en assosiaat van die handelsregsentrum tralac, wat in Stellenbosch gesetel is, het in Mei verlede jaar in ’n artikel geskryf dat Ventura Coastal in sy versoek aan die kommissie beweer het dat die stortingsmarge 128,61% was en dat die kommissie dit in sy voorlopige ondersoek tot 97,15% verlaag het.
Suurlemoensap uit Suid-Afrika kom kragtens die Amerikaanse wet op groei en geleenthede in Afrika (Agoa) daarvoor in aanmerking om tariefvry ingevoer te word.
Luidens die kommissie se voorlopige verslag in Februarie 2022 is die versoek vir die teensortingsondersoek teengestaan deur onder meer die Suid-Afrikaanse bedryfsorganisasie vir vrugteversappers (Safja) en Coca-Cola in Amerika, wat suurlemoensap uit Brasilië koop.
Luidens die verslag was Brasilië se aandeel in die totale hoeveelheid ingevoerde suurlemoensap in Amerika van Januarie tot September 2020 6,7% en van Januarie tot September 2021 14,4%. Suid-Afrika s’n in dieselfde tydperke was 9,3% en 13,7%.Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.