
Die vraag na sekere verwerkte vleisprodukte soos worsies, polonie, spek- en lewersmeer het volgens Eskort, vervaardiger van vleisprodukte, vanweë verbruikers se platter beursies drasties gestyg.
In Februarie vanjaar was voedselinflasie op ’n jaargrondslag 6,4%. Volgens Eskort was verkope van weense worsies en vleissmere teen einde Maart vanjaar op ’n jaargrondslag van 11,4% tot 15,2% hoër. Die onderneming skryf dit daaraan toe dat huishoudings meer bekostigbare vleisalternatiewe tot hul inkopiemandjies wil voeg.
Eskort verskaf produkte aan verskeie groot kleinhandelkettinggroepe wat op verbruikers in die lae- en middelinkomstegroepe gerig is, soos Shoprite.
“Opvallende bewegings in die verkoopsvolume van goedkoper stapelproteïenvoedselsoorte by kleinhandelaars wat die Living Standards Measure (LSM) se onderste vyf markte bedien, wys dat verbruikers in die middel- en lae-inkomstegroepe in reaksie op toenemende gelddruk op soek is na winskopies en bekostigbare proteïenopsies,” sê mnr. Arnold Prinsloo, uitvoerende hoof van Eskort, in ’n verklaring.
Die syfers toon hoe gevoelig kwesbare huishoudings vir voedselinflasie is en dat hulle op soek is na kostedoeltreffender produkte en plaasvervangers.
Ook gegoede verbruikers kan na varkvleis skuif
Hoërinkomstegroepe neig om minder prysbewus te wees, met vraag wat taamlik bestendig bly, ondanks bewegings in pryse en voedselinfalsie. Prinsloo verwag desondanks dat al hoe meer verbruikers in die komende maande, te midde van rekordhoë vlakke van werkloosheid en stygende pryse vir brandstof, elektrisiteit en voedsel, varkvleis en laekostevarkprodukte gaan oorweeg in die plek van duurder vleis soos bees- en lamsvleis.
“Stygende vleisinflasie is dikwels ’n gunstige faktor vir die varkvleisbedryf. Teen rofweg die helfte van die prys van beesvleis en ’n derde van die prys van lamsvleis is varkvleis dikwels ’n hoogs aantreklike opsie wanneer verbruikers na meer bekostigbare alternatiewe oorskakel,” sê hy.
“Ten opsigte van prys en voedingswaardevoordele boks varkvleis ver bó sy gewig, met ’n wye verskeidenheid produkte wat teen verskillende pryspunte beskikbaar is om enige beursie te pas.
“Ons verwag ook om ’n verhoogde vraag te sien na produkte soos skouerspek, worsies en russiese wors omdat lae- en middelinkomstehuishoudings soek na maniere om op voedseluitgawes te besnoei.”