
Dr. Tracy Davids, navorser in landbou-ekonomie aan die Universiteit van Pretoria en die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP), het op die bekendstelling van BFAP se vooruitskouing vir 2018 tot 2027 op Somerset-Wes, gesê Suid-Afrika voorsien nou 10,4% van die totale waarde van Chinese wolinvoer teenoor net 4% tien jaar gelede.
Heelwat van die toename in produksie kan toegeskryf word aan groter deelname deur swart boere, veral in die Oos-Kaap. “In 1997-’98 het die swart boere wol ter waarde van R1,5 miljoen gelewer. Danksy genetiese verbetering en ander ander steun kon hulle in 2014-’15 wol ter waarde van sowat R130 miljoen lewer.
Suid-Afrika mag wel ’n netto invoerder van skaapvleis wees, maar meer as 90% van die wol wat plaaslik geproduseer word, word uitgevoer. Suid-Afrika was in 2017 op twee na die grootste woluitvoerder in terme van waarde. Die vraag na wol het sedert 2007 wêreldwyd met 2% per jaar toegeneem. In China, wat die grootste invoerder van Suid-Afrikaanse wol is, het die vraag na wol met 4,5% per jaar toegeneem.