
Die jongste ontleding in 'n nasionale grondoudit wys weer eens dat swart eienaarskap van landbougrond heelwat verder gevorder is as wat Jan en Alleman dink.
Só sê mnr. Johann Bornman, 'n ekonoom en voorsitter van Agri Development Solutions, in die jongste in 'n reeks ontledings oor die eienaarskap van landbougrond in SA. Bornman doen die ontledings vir Landbou.com en Landbouweekblad.
Die jongste ontleding is saamgestel uit data van die Aktekantore wat deur Windeed verskaf is.
Bornman sê “in vorige artikels rakende dié grondoudit en die besit en/of okkupasie van grond deur mense van kleur in die RSA, is gewag gemaak van die feit dat hierdie eienaarskap hoofsaaklik gesentreer word in of rondom hoëpotensiaal grond. Die vraag is nou, indien die stelling waar is, en die bewyse is daar uit die studie, hoe groot is hierdie waardeverskil.”
Kan grondbesit op drie wyses beskryfHy sê die verhouding van grondbesit deur mense van kleur kan basies op drie wyses beskryf word, naamlik: (1) Deur die oppervlakte in hektaar of (2) om die waardepotensiaal ook in ag te neem deur die waarde van die grond in besit deur mense van kleur uit te druk as persentasie van die totaal. Derdens is dit deur inherente of intrinsieke waarde as persentasie van die totaal vir die land te vergelyk. In laasgenoemde geval word die drakrag per grootvee eenheid as verrekeningsfaktor gebruik.
Vir doeleindes van Bornman se oudit is in die geval van die waardebepaling, word grootliks gesteun op die resultaat uit die data vir 2010 tot 2016. 'n Volledige prentjie sal daargestel word met voltooiing van die oudit, wat met data vanaf 1994 beoog word.
Twee aspekte hieruit verdien vermelding. (1) Die konsentrasies van transaksies in bepaalde distrikte in provinsies, waaronder die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal, Mpumalanga, Limpopo en Noordwes. (2) Dit kan ook verder sonder vrees van teenspraak bevestig word uit die navorsing, dat mense van kleur markwaarde betaal om grond te koop.
Transaksies weerlê stellings“Die stellings wat allerweë los en vas gemaak word dat die vryemark vir grondaankope deur mense van kleur disfunksioneel is, word onomstootlik weerlê deur transaksies, soos gedokumenteer uit die Aktekantoor. 'n Waarde-vergelyking is dus 'n geldige toets in die kleur-eienaarskap debat.”
Vir die grondpotensiaal-oefening is gebruik gemaak van die drakragnorm (soos deur die Departement van Landbou, Bosbou en Vissery daargestel) deur die inligting van 340 distrikte in die RSA te verreken. Die uitkoms van die studie is in die meegaande tabel.
Drie provinsies toon, gebaseer op grondpotensiaal, 'n besitvlak van meer as 60% in die hande van swart eienaars. Dit is in die Oos-Kaap, KZN en Limpopo.
Vir die RSA in geheel kom die syfer op 52,8% te staan. In slegs drie provinsies is die verhouding onder 30%, met die Wes-Kaap die laagste met 5,4%.
Bornman sê dit is veral interessant om daarop te let dat grond in die ou TBVC-lande sowat 8% van die RSA se oppervlakte beslaan, maar op potensiaal-basis hoofsaaklik onder die hoë norme van die Oos-Kaap, Noordwes en die Limpopo-provinsies val.
Wees omsigtig met grondhervorming“Hierdie deel uit die studie beklemtoon maar net weer die noodsaaklike en belangrikheid daarvan om omsigtig met grondhervorming om te gaan en wel seker te maak dat hoëpotensiaal grond 'n produktiewe bydrae tot die ekonomie van die landbou en voedselproduksie in die land lewer.
“Kommersiële landbougrond, hoofsaaklik verantwoordelik vir voedselproduksie, het reeds vanaf 1993 van 85,1% afgeneem tot na raming 61,4% in 2016. Dit is nie volhoubaar nie.”
* Klik op die banier hieronder om die webwerf oor plaasverkope te lees.