
’n Swartwitpensbul, Tequila, is vir R6,8 miljoen verkoop op die jaarlikse veiling van me. Tina de Jager, Valley Venture-stoeterye, Vryburg, wat in Wildwinkel se veilingsentrum by Bela-Bela gehou is.
Dié Zambiese bul en seun van Madala is aan mnr. Anton Taljaard, ook van Vryburg, verkoop. ’n Gewone springbokram, Hercules, met horings van 18 duim, is deur een van De Jager se gasverkopers, mnr. Julian Theron van Jules of the Karoo, De Aar, vir ’n allemintige R1,55 miljoen aan mnr. Jacques Malan, Lumarie, Bela-Bela, verkoop. Ooie is vir R70 000 tot R80 000 verhandel.
Bosbokooie wat deur dr. Wesson van Rensburg van Realora Wild, Bela-Bela, aangebied is, het die Suid Afrikaanse rekordprys van R85 000 geëwenaar. Die trop van ses ooie is dragtig van James Bond, ’n ram met horings van 19 duim. Die prys van rooi gemsbokke het tussen R500 000 en R1 000 000 gewissel.
Mnr. Sybrand Mostert van Wildwinkel sê beeste is vir die eerste keer op ’n veiling van Wildswinkel verkoop. De Jager het baie goeie pryse vir haar Santa Gertrudis-stoetbeeste behaal, waaronder R360 000 vir ’n jong bul, R165 000 vir ’n koei met ’n bulkalf, R80 000 vir ’n koei met ’n verskalf en R75 000 vir ’n vers.
Die omset vir die wild en beeste was R41 047 000. Altesaam 201 kopers het vir die veiling geregistreer. Die afslaer was mnr. Niel Swart.