
Van Staden het op 1 Augustus as eenheidshoof oorgeneem by mnr. Kobus Lindeque, wat steeds by die maatskappy betrokke sal wees as konsultant.
“Van Staden sal in die nuwe rol Syngenta se saadafdeling lei om die saadbesigheid in Afrika verder te laat groei. Hy sal voortbou op die huidige momentum van die maatskappy se klem op volhoubare landbou,” sê Lindeque luidens ’n verklaring.
Van Staden het bykans 20 jaar ondervinding in die landbousektor. Hy was voorheen deel van Bayer se bemarkingspan as veldtog-en-handelsmerkbestuurder vir Afrika. Hy glo veral in waardetoevoeging en die handhawing van goeie verhoudinge met kliënte. Hy is ook passievol oor die geleenthede wat Syngenta aan plaaslike produsente bied.
“Die landbousektor lê my baie na aan die hart en ek het ’n groot voorliefde vir verkope en bemarking. Interaksies met kliënte inspireer my en ek is vas oortuig daarvan dat goeie verhoudinge ’n kritiek belangrike hoeksteen vorm vir besigheidsukses,” sê Van Staden.
“Ek glo ook dat ’n produksielyn van saad en produkte van goeie gehalte nie net beter opbrengs verseker nie, maar dat dit ook ’n deurslaggewende rol speel om kwessies wat verband hou met graanproduksie, soos siektes en plae, die hoof te bied. Goeie produkte, gekoppel aan goeie diens en kundige raad maak dit vir produsente makliker om kos te produseer en natuurlike hulpbronne slim en volhoubaar te gebruik.
“Ek sien uit daarna om die verantwoordelikhede wat die nuwe rol inhou, met albei hande aan te gryp en om in die voetspore wat Kobus nagelaat het, te volg. Dit is ’n groot voorreg op Kobus se nalatenskap om voort te bou.”
In die afgelope paar jaar het Syngenta aangekondig dat die maatskappy opnuut op sy saadbesigheid in Afrika gaan konsentreer. Hoewel die Sensako-saadhandelsmerk reeds oor jare sy merk op die Suid-Afrikaanse saadbedryf gemaak het, is daar die afgelope jaar gekonsentreer op die somergraangewasse in streek. Die maatskappy het nuwe teelprogramme vir mielies en sonneblom, asook ’n kultivartoetsprogram vir sojabone gevestig.
Lindeque se groeistrategie vir somergraangewasse sal steeds die grondslag vorm van toekomstige groei en uitbreiding van Syngenta se saadbesigheid in Afrika.