
Mnr. Wandile Sihlobo, ekonoom van die landbousakekamer Agbiz, sê die taakspan wat me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, aangestel het om oplossings vir die beurtkragkrisis te vind, kyk of ’n subsidie of gemengde finansiering moontlik sal wees.
Hy het op ’n Nedbank-gespreksessie oor landbouvooruitsigte gesê die departement gaan kyk of daar geld beskikbaar is in sy eie begroting waarmee boere wat dit wil doen, gesubsidieer kan word.
Dit is egter onseker hoeveel geld beskikbaar sou wees, aangesien geld in die begroting reeds vir ander gebruik toegewys is.
Sihlobo sê daar word besef dat die sektor reeds sowat R200 miljard skuld en dat finansiële hulp ondersoek moet word.
Terugbetaling
Mnr. John Hudson, hoof van landbou by Nedbank Kommersiële Sake, het gesê die bank kyk ook hoe hy eie kragopwekking kan finansier en boere se kontantvloeidruk kan verlig, onder meer deur langer terugbetalingstydperke.
Die ideaal sou wees dat so ’n lening “kontant-neutraal” moet wees, naamlik dat die boer se besparing op sy Eskom-rekening gebruik kan word vir die delging van sy lening, maar baie boere kan nie heeltemal van die Eskom-netwerk af gaan nie.
Hudson het gesê hulle het boerekliënte by wie sonkrag deel is van ’n mengsel van energiebronne en vir wie dit so goed werk, dat hulle die bank nader om dit uit te brei. “Die probleem is dat die stelsels wat boere geïnstalleer het, nie voldoende is as fase 6-beurtkrag ingestel word nie.” Hy verwag dat boere hul stelsels gaan vergroot.
Prof. Frikkie Maré, mede-hoogleraar van die departement landbou-ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat, het gesê besproeiingsboere sê aan hom hulle het sonkrag geinstalleer om ’n laer kragrekening te hê, nie om Eskom-krag te vervang nie. Boere het nodig om ook snags te kan besproei “en daar is geen manier dat hulle opbergingskapasiteit kan bekostig nie”.
Hudson het bygevoeg die installering van opberginskapasiteit kan die koste van ’n sonkragaanleg verdubbel.
Ander benadeel
Volgens Sihlobo duur gesprekke met Eskom voort oor hoe besproeiingsboere gehelp kan word. Die probleem is dat plase nie noodwendig op hul eie kraglyne is nie. As ’n plaas ’n lyn met ’n woongebied deel, sal dit baie onregverdig teenoor dié mense wees om beurtkrag van 8:00 tot 15:00 in te stel sodat boere laatmiddag water kan pomp en snags kan besproei. Waar plase wel geïsoleer kan word, sal só ’n beurtkragskedule ’n maklike manier wees om boere te help, sê Sihlobo.
Didiza se taakspan kyk ook watter regulatoriese hindernisse daar is wat vir boere uit die weg geruim kan word sodat hulle self krag kan opwek.
Dit sluit wetgewing in oor die onderverdeling van landbougrond, asook oor beplanning en grondgebruikbestuur. Daar word ondersoek hoe boere grond wat vir landbou gesoneer is, vir energie-opwekking kan gebruik.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.