
Die Regering se besluit om ‘n taakspan aan te stel om die kwessie van suur mynwater aan die Rand aan te spreek, “is te laat”, sê me. Mariette Liefferink, hoof van die Federasie vir ‘n Volhoubare Omgewing.
“Die tyd beskikbaar vir die taakspan om die situasie te ondersoek, ‘n verslag saam te stel en op te tree voor ‘n krisis tref, is te kort. En daar is reeds duisende verslae in dié verband beskikbaar, daadwerklike optrede is nóú nodig.”
Liefferink sê kommer bestaan oor die taakspan van kundiges wat me. Bulyewa Sonjica, Minister van Waterwese en Omgewingsake, onlangs aangestel het. “Ons is bekommerd dat dié span nie al die nodige kundiges het nie en dat dit dalk eensydig aangestel is. Die publiek is nooit oor die taakspan gekonsulteer nie en die moontlikheid bestaan dat dit met politieke belange saamgestel is.”
Op bevel van die Kabinet
Luidens ‘n berig op Nuus24.com is die taakspan op bevel van die Kabinet saamgestel en sluit dit onder meer die ministers van Minerale Hulpbronne, Waterwese en Omgewingsake, Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, die Minister in die Presidensie wat verantwoordelik is vir die beplanningskommissie en die toepaslike provinsiale amptenare in.
Volgens Liefferink is nog geen inligting oor die taakspan, sy doelwitte, strategie of begroting bekend nie. “Die vernaamste rolspelers is nog nie hieroor ingelig nie. Ons het van geloofwaardige bronne verneem dat die myne ook nog nie hieroor ingelig is nie.”
Die Kamer van Mynwese het wel reeds sy hulp en samewerking luidens ‘n verklaring aan die taakspan toegesê.
Liefferink meen dit is wel verblydend dat die Regering met die saamstel van dié taakspan die probleem erken, en “nie meer soos ‘n volstruis met sy kop in die sand ontken nie”.
Grondverskuiwings na reëns
‘n Verdere bron van kommer is die moontlikheid van grondverskuiwings wat na die val van die eerste somerreëns aan die Rand kan voorkom. “Sodra daardie reënwater in die mynkomme aan die Wes- en Oos-rand inspoel, kan dit lei tot verdere grondverskuiwings. Die eerste sulke seismiese gebeurtenisse is onlangs reeds in die Witbank-omgewing ervaar.”
Die probleem van suurwater in mynkomme strek wel verder as net die Oos- en Wes-Rand, vertel Liefferink. Sy is nog nie seker na watter gebiede dié taakspan presies gaan kyk nie, maar komme bestaan ook ondergronds in die Klerksdorp-omgewing, en sy verwag ook probleme in dié gebied.
14 September 2010