
Die verhoging van 4,9% in aksynsbelasting op tabakprodukte wat mnr. Enoch Godongwana, minister van finansies, in sy begrotingsrede aangekondig het, is vir die eerste keer in jare laer as die inflasiekoers, wat beteken die tesourie begin verstaan dat hoë verhogings net lei tot meer belastingontduiking en ’n groter onwettige mark, sê mnr. Francois van der Merwe, ’n tabakprodusent en direkteur van die tabakverwerkingsmaatskappy LTP. “Al is geen verhoging goeie nuus nie, is die verhoging met minder as inflasie lig in die tonnel.”
Hoewel produsente en die bedryf verlig is dat die verhoging laer as inflasie is, sê Van der Merwe Suid-Afrikaanse tabakprodusente voer steeds ’n verloorstryd teen onwettige sigaretverkope. Die pryse van wettige produkte kan nie met die sluikhandel meeding nie.
Hoewel dit lyk of die wettige tabakbedryf se volgehoue bewusmaking van grootskaalse belastingontduiking in veral die sigaretbedryf besig is vrugte af te werp, sou boere graag wou sien dat daar geen verhogings in aksynsbelasting is nie totdat die speelveld gelyk is vir alle verskaffers van tabak en vervaardigers van tabakprodukte.
Daar word tans tussen 35 miljard tot 37 miljard sigarette per jaar in Suid-Afrika verkoop, waarvan net sowat 33% deur wettige kanale verhandel waar BTW en aksynsbelasting betaal word. Twee derdes van die plaaslike sigaretverkope word dus verkoop sonder dat die belastings, wat nou op R23,92 per pakkie van 20 sigarette beloop, betaal word.
Dit stel die onwettige bedryf in staat om ’n pakkie van 20 sigarette vir so min as R7 te verkoop, hoewel die meeste onwettige sigarette teen R15 tot R20 per pakkie verkoop word, terwyl sigarette deur die wettige kanale tussen R35 en R40 en selfs meer per pakkie van 20 kos.
Van der Merwe sê die speelveld vir Suid-Afrika se tabakprodusente wat aan wettige vervaardigers lewer, bly dus ongelyk ten spyte van die goeie gehalte van plaaslike boere se produk.
Heffings
Omdat daar ingevolge die vryehandelsooreenkoms van die Suid-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap nie beperkinge of heffings is op die invoer van onverwerkte tabak is nie, mag vervaardigers tabak invoer en dan sigarette in Suid-Afrika vervaardig.
Die aksynsbelasting op tabakprodukte berus op ’n eerlikheidstelsel. Vervaardigers word vertrou om die hoeveelheid sigarette wat hulle daagliks vervaardig, te rapporteer en daarop belasting te betaal sodra die sigarette uit die fabriek versend word.
Dit is hier waar die 24 miljard tot 25 miljard sigarette wat elke jaar onwettig verkoop word, deur die krake val. Daarom oorweeg die Suid-Afrikaanse Inkomstediens nou om toerusting op vervaardigingsmasjiene te installeer wat sigarettellings direk en intyds na die SAID-kantore deurvoer. Dieselfde geld geslotekanaalvideokameras wat deur SAID-personeel gemonitor kan word.
In sy begrotingsrede het Godongwana gesê die staat het die afgelope jaar reeds suksesse in die stryd teen sluikhandel behaal. Daar was 2 316 beslagleggings op onwettige sigarette en tabakprodukte ter waarde van R598,8 miljoen.
Meer as R1,2 miljard is verhaal en 92 sake is aan die nasionale vervolgingsgesag oorhandig waarvan twee reeds gelei het tot skuldigbevindings van belanghebbers in tabaksmokkelsindikate.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.