
Die SAID is bly oor die nuus dat ’n bewaringsbevel teen Gold Leaf Tobacco Corporation (GLTC) en sy direkteure, mnr. Simon Rudland en Ebrahim Adamajee, deur die Noord-Gautengse hooggeregshof uitgereik is.
Dié bevel verbied die betrokke partye om van enige realiseerbare bates ontslae te raak, of te verwyder, wat die invordering van belasting kan beperk.
Luidens die SAID se verklaring het sy ondersoekspan die afgelope jaar gekonsentreer op die “onwettige ekonomie” in die tabak-, goud- en brandstofbedryf.
Simon Rudland is die broer van mnr. Hamish Rudland, aan wie Magister Investments behoort wat die sukkelende suikermaatskappy Tongaat Hulett wou oorneem. Die mededingingskommissie het ’n stokkie voor dié plan gesteek.
In ‘n artikel wat Maandag 29 Augustus op Daily Maverick (bit.ly/3R0z9Cn) geplaas is, word berig die SAID het die hof in die geheim genader en GLTC, Rudland en Adamjee beskuldig van “bedrieglike, opsetlike belastingontduiking” en dat hulle “belemmerend” optree.
Volgens die berig glo die SAID die bewyse van misdadige optrede is onder meer gekamoefleer deur banktransaksies uit te vee, betalings te bespoedig, vals dokumentasie op te stel en verslae oor die skuif van buitelandse valuta aan die Reserwebank te vernietig.
“Die optrede van belastingpligtes wat nie hul belastingverpligtinge nakom nie, ontneem die regering van wettige hulpbronne. Die optrede is ook tot nadeel van die Suid-Afrikaanse publiek,” sê mnr. Edward Kieswetter, SAID-kommissaris, in die verklaring oor die bevel. “Ons pak hierdie plaag aggressief aan en sal voortgaan om ons mandaat sonder vrees, guns of vooroordeel uit te voer.”
Hy sê die SAID span sy vermoëns in om die nie-nakoming van wetlike belastingverpligtinge moeilik en duur te maak vir diegene hulle self met hierdie misdadige optrede vermoei.
Een van vele
Die SAID sê hierdie bevel is net een van vele waarmee die instelling besig is.
Die bevel is ingevolge afdeling 163 van die Belastingadministrasie teen die maatskappy en sy direkteure gegee.
British American Tobacco (BAT) het in reaksie op die nuus gesê die sluikhandel in tabak is ernstig en bly ’n hoogs georganiseerde misdaad wat die regering van waardevolle belastinginkomste stroop.
“Dit rig ook skade aan ons sakebedrywighede aan. Ons verwelkom die nuus en optrede van die regering om die saak aan te pak. Ons gee ook erkenning aan die onlangse stappe en -beleide om sluikhandel te beveg.”
BAT het vroeër vanjaar gesê onwettige handel in sigarette beroof die regering jaarliks van ongeveer R19 miljard. Die maatskappy het toe verwys na ’n Ipsos-studie oor die land se tabakbedryf. Die studie het onder meer gewys handelsname soos Voyager wat aan GLTC behoort, verkoop die meeste onder die minimum invorderbare belastingbedrag (R22,79 met vervaardigingskoste en wins uitgesluit).