Oproepe om ’n grond-Kodesa as die oplossing vir die grondhervorming-kwessie word al hoe sterker.
Prof. Shadrack Gutto, voorsitter van Unisa se sentrum vir Afrika- renaissance studies, het nou sy stem daarby gevoeg nadat verteenwoordigers van die georganiseerde landbou die idee ook gesteun het. Gutto het dit op 18 November aan lede van die Black Management Forum (BMF) in Johannesburg genoem.
Ook prof. Mohammad Karaan, hoof van die landboufakulteit aan die Universiteit Stellenbosch, steun die gedagte, maar met die voorbehoud dat dit nie verval in blootsgeryde ou dispute nie, berig die sakedagblad Sake24. Dit is bekend dat die grondberaad van ’n paar jaar gelede weinig verder as politiekery gevorder het.
Sowel Gutto as Karaan meen dit is vreemd dat die eienaarskap van grond, selfs in die groenskrif oor grondhervorming, bespreek word, terwyl geen woord oor kommunale grond gerep word nie.
“Dit dui op ’n gebrek aan waagmoed en durf aan regeringskant om tradisionele leiers vas te vat oor ongrondwetlike praktyke waardeur sekere burgers grondregte en verblyfsekerheid ontsê word,” het Gutto volgens die dagblad Business Day op die vergadering van die BMF gesê.
Mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, het op dieselfde geleentheid voorstelle van onteiening sonder vergoeding om grondverkryging aan te help, afgeskiet en aan BMF-lede gesê chaotiese grondvergrype sal nie geduld word nie.
Hy het weer die kwessie van beperkings op buitelandse grondbesit in Suid-Afrika geopper. Vir Suid-Afrikaners beteken beleid oor private grondbesit nie dat dit sekerheid oor eienaar skap bedreig nie, maar dat dit eerder die aantal en grootte van plase wat aan ’n individu behoort, kan inperk.
Nkwinti het toegegee dat die grondhervormingsproses nie kan voortgaan soos dit tot nou gedoen is nie. ’n Nuwe benadering is nodig. Grond sal nou beskikbaar gestel word aan mense wat kommersieel wil boer en nie net af en toe op die plaas wil gaan braai nie, het hy gesê.
30 November 2011