COP 17, die Verenigde Nasies (VN) se konferensie oor klimaatsverandering, begin vandag (28 November 2011) in Durban en verskeie organisasies gaan hier vir die landbou en boere se belange veg.
Die konferensie, die 17de konferensie van partye wat hulle verbind het tot die VN se raamwerkkonvensie oor klimaatsverandering (UNFCCC), is een van die grootste konferensies wat nóg in Suid-Afrika aangebied is. Meer as 20 000 afgevaardigdes uit meer as 190 lande word verwag.
Die konferensie is daarop gemik om onder meer voort te bou op ooreenkomste oor klimaatsverandering wat by die vorige beraad in Cancun, Mexiko, bereik is.
Me. Maite Nkoana-Mashabane, Suid-Afrika se Minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking en ook voorsitter van COP 17, het vroeër gesê die landbou is een van die belangrikste sektore wat deur klimaatsverandering geraak word en verdien ’n plek op die sakelys van die debatte.
Landbou op sakelys
Die Konfederasie van Suider-Afrikaanse Landbou-unies (Sacau), wat waarnemerstatus by COP 17 het, sê hy gaan hom ook beywer om die landbou op die sakelys oor klimaatsverandering te kry.
“Die landbou is die ekonomiese hoeksteen van die meeste Afrikalande en dra beduidend by tot voedselsekerheid en verligting van armoede vir miljoen huishoudings,” het mnr. Ishmael Sunga, uitvoerende hoof, gesê.
“Klimaatsverandering bied uitdagings vir ons vermoë om mense te voed en sal gebiede, wat reeds kwesbaar is, verder beïnvloed.” Sunga sê Sacau is bekommerd oor die afwesigheid van die landbou in die huidige ooreengekome dokumentasie van die UNFCCC.
Een van sowat ’n duisend nieregeringsinstansies, FANRPAN (die netwerk vir die beleidsontleding van voedsel, die landbou en natuurlike hulpbronne), se slagspreuk is “geen landbou, geen ooreenkoms”.
28 November 2011