
Lae pryse en ’n ooraanbod in tamaties op nasionale varsproduktemarkte gaan waarskynlik tot 2018 tamatieboere se slaai versuur.
Volgens mnr. Clive Garrett, bemarkingsbestuurder by ZZ2, het die warmer weer hierdie winter, ’n gebrek aan ryp, beter produktiwiteit en genetiese vordering asook nuwe toetreders tot die tamatiebedryf, alles bygedra tot die oorvoorsiening wat tans op die markte heers.
Bonus
Volgens mnr. Deon van Zyl, uitvoerende hoof van RSA Markagente, is veral produsente in streke soos Brits en in die Bosveld, tans in ’n bonustydperk.
“Normaalweg het die ryp en koue hulle reeds uit die tamatiemark gehaal teen Mei of Junie, maar hulle oes steeds. Die produsente wat nie in die laat somer en vroeë winter produseer het nie en wat nou eers in die mark kom, gaan die swaarste trek weens die lae prys.”
Volgens Garrett behoort die prys vir goeie gehalte tamaties tans by R11/kg te wees vir produsente om ’n wins te maak, maar die prys wissel tussen R4 en R7 per kilogram.
“Tamatieboerdery gaan ’n uitdaging wees vir die res van die jaar. Skaal-ekonomie, goeie gehalte, kontinuïteit van voorsiening, handelsmerkerkenning en professionele bemarking gaan bepaal wat die uitwerking op produsente is, maar die verbruiker kan uitsien na goeie gehalte tamaties teen billike pryse vir die res van die jaar.”
Weer is die sleutel
Volgens Van Zyl, indien die winter nie baie vinnig goeie koue bring nie en die warmer weer duur voort, gaan die aartappelbedryf, wat reeds vir maande lank gebukkend gaan onder lae pryse weens swak vraag, in presies dieselfde bootjie wees so vroeg as begin Oktober.
“Die oeste uit die ganse noorde gaan uitstekend wees indien die gunstige weer voortduur en dit sal die aartappelprys, wat reeds onder druk is, verder afdwing,” verduidelik Van Zyl.