
Mnr. Jean Theunissen, voorsitter van die Ceres-Tankwa-Karoo-landbouvereniging, sê hulle begin nou eers die volle omvang van die skade bepaal namate die watervlakke stadig daal.
“Ons sien plasings op sosiale media van vernietigde infrastruktuur en geboue. Ons is seker daar sal nóg meer opduik namate kommunikasielyne herstel word.”
Die vereniging doen ’n beroep op lede van die publiek vir enige skenkings. “ ’n Mens wil nie bakhand staan nie, maar ongelukkig is dit nou ’n kwessie van diesel en arbeid – alles wat geld kos. Die herboukoste en oesskade moet ook in ag geneem word,” sê Theunnissen.
Die organisasie probeer om ’n sentrale punt te skep waar finansiële hulp ingesamel kan word en om die geld aan te wend om die gemeenskappe op hul voete te help.
Landbou.com het vroeër berig boere in die Tankwa-Karoo moes hul plase ontruim weens die swaar reën. Diere moes inderhaas na veiligheid geneem en motors moes uit riviere getrek word nadat plaasdamme se walle gebreek het.
Mnr. Leon Theunissen van die plaas Kareekolk op Sutherland het verlede naweek 95 mm reën gehad en 130 mm op die plaas wat op die Calviniapad voor die berg is. Me. Carole Pretorius van die plaas Avontuur, sowat 22 km van die afdraai na Touwsrivier, het 136 mm reën gemeet.
Theunissen sê enigeen wat bydraes tot die opbouingsfonds van die Tankwa-Karoo wil lewer, kan hom by 076 019 0076 bel.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.